Local newsNews

Emeritus-predikant van Kokanje sterf

Frans van Dyk (69), ’n emeritus-predikant van die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle, is onverwags op Maandag 4 Januarie in die Milpark-hospitaal in Johannesburg oorlede.

Volgens een van sy dogters, Lisinda Jansen, het haar pa die Sondagmiddag 3 Januarie geweldig pyn ervaar.

Dr. Cas Breedt van die Kokanje aftree-oord het hom ondersoek en ’n abdominale aorta-aneurisme gediagnoseer.

Van Dyk is per noodhelikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem vir ’n noodoperasie. Hoewel die teaterspan alles moontlik gedoen het om sy lewe te red, is hy aan inwendige bloeding oorlede.

Van Dyk was ’n leerder aan Laer- en Hoërskool Nylstroom waar sy pa, Flip van Dyk, jare lank ’n biologieonderwyser was.

Van Dyk het sy teologie studies aan die PU vir CHO in Potchefstroom voltooi. Volgens sy dogter het hy gemeentes bedien in Johannesburg-Noord, Die Moot/ Hartbeespoort, Ventersdorp en die Keetmanshoop/ Mariental-omgewing in Namibië.

Hy en sy vrou, Annette, het op 6 Desember verlede jaar hul 45ste huweliksherdenking gevier. Die egpaar was tien jaar lank in Namibië waarna hulle in 2017 teruggekeer het Bosveld toe en hulle op Kokanje gevestig het.

Volgens Jansen was haar pa oral bekend vir sy harde, uitbundige lag en het hy graag stories vertel.

Hy was ’n diepgelowige mens wat sy Bybel baie goed geken en gereeld in die Gereformeerde kerke in die omgewing gepreek het.

Hy was by Kokanje aktief betrokke as taalversorger van die Kollig-boekie en voorsitter van die Hulpfonds. Hy het ook in die bestuur van die Modimolle-Parkrun gedien.

Sy troosdiens was op Saterdag 9 Januarie vanuit die Gereformeerde Kerk Modimolle. Hy word oorleef deur sy vrou, vier dogters, vier skoonseuns en 11 kleinkinders.

Related Articles

Back to top button