Local newsNews

Geskokte familie vind man lewend ná doodstyding

’n Familie van Bela-Bela steier nog van skok en verbasing nadat hulle glo die afgelope week ’n nagmerrie-ondervinding by die Warmbad-hospitaal beleef het.

Volgens ’n familielid van Jack Makato, ’n tuinwerker van die dorp, het hulle ’n oproep van ’n verteenwoordiger van die Warmbad-hospitaal ontvang dat Makato in die hospitaal dood is.

Dié tuinier, wat in verskeie mense se tuine by woonhuise in Reitzstraat en Tarentaalpark werk, is op Maandag 11 Januarie in die hospitaal opgeneem nadat hy glo nierprobleme ondervind het.

Sy broer, Solly, asook sy vrou Willemina, het aan Die Pos vertel dat die familie dieselfde nag meegedeel is dat Jack dood is.

Die familie het die nuus moeilik verwerk, want hulle het nie gedink dat sy toestand só ernstig was nie. Jack is die pa van drie minderjarige kinders en is die enigste broodwinner, het Solly aan Die Pos gesê.

Die getraumatiseerde gesinslede het die hospitaal die volgende oggend besoek om meer inligting oor Jack se skielike dood te verkry en om reëlings te tref vir die lyksbesorger.

By hul aankoms was dit vir hulle vreemd dat hulle na ’n gewone hospitaalsaal verwys is en nie na die lykshuis, soos hulle verwag het nie.

Hulle verbasing en blydskap het geen perke gehad toe hulle vir Jack lewend in sy hospitaalbed aangetref het nie.

“Hy was aan ’n suurstofmasjien gekoppel en ons kon normaalweg met hom praat. Al wat een van die verpleegsters aan ons gesê het, was dat sy ‘jammer is’,” het Solly gesê.

Die familie is glo ook meegedeel dat Jack se toestand só verbeter het, dat hy hopelik binne enkele dae ontslaan sal kan word.

Die familie het aan Die Pos gesê hulle voel die hospitaal het uiters onprofessioneel opgetree en hulle onnodig aan uiterste trauma blootgestel.

Hoewel hulle natuurlik verlig was om Jack lewend aan te tref, is hulle baie ontsteld oor die onnodige angs en hartseer wat hulle beleef het.

“In dié tyd van Covid-19 bevraagteken ’n mens bykans nie meer so ’n slegte tyding nie,” het Solly gesê.

Die familie het gesê hulle is besig om die saak met die hospitaal se hoofbestuur op te neem.

Die Pos het Bhuti Moagi, hoofuitvoerende beampte van die hospitaal, om kommentaar genader, maar hy het teen druktyd nie op navrae gereageer nie.

Lindy Wilson, LP en die DA se adjunk- skaduminister van gesondheid, het by navraag gesê sy neem kennis van die saak en het gesê sy sal ’n ondersoek loods.

Related Articles

Back to top button