CrimeNews

Vrou smeek om genade terwyl polisieman haar glo aanrand

’n Polisie­beamp­te van Bela-Bela is in Desem­ber uit sy pos ge­skors na­dat hy sy vrou glo helderoordag en voor getuies in die open­baar aan­ge­rand het.

’n Uiters ontstellende video van die beweerde voorval is wyd op sosiale media ver­sprei.

In die video kan gehoor word hoe die vrou huil en omstanders smeek dat die aanvaller genade aan haar betoon. Talle mense kyk toe.

Vol­gens sers. Frans Mapon­ya, po­lisie­woord­voer­der, is konst. Comfort Kubyane Molefe aan­ge­kla van aan­randing en het hy reeds in die Bela-Bela-land­dros­hof ver­skyn.

Mapon­ya het beves­tig dat Mo­lefe ge­skors is hang­en­de die hof­uit­spraak.

Mole­fe is op Dins­dag 5 Jan­ua­rie op borg­tog van R1 000 vry­ge­laat en moet weer op Don­der­dag 28 Jan­uar­ie in die hof ver­skyn.

  • Pre­s. Cyril Rama­pho­sa het tydens sy jongste toespraak aan die nasie oor die Covid-19-pademie gesê ge­slags­ge­weld het ’n twee­de pan­de­mie geword wat die land teis­ter.

    Ge­slags­ge­weld is reeds sedert 2018 in die kol­lig en verskeie openbare veldtogte is geloods om bewusmaking hieroor te skep.

    Statistieke toon egter dat voorvalle merkbaar toegeneem het sedert die na­sio­na­le inper­kingsbevel in Maart verlede jaar ingetree het.

    Die rege­ring het reeds ’n nood­plan opg­estel om slag­of­fers by te staan en wette te verander sodat oortreders vinniger vasgevat kan word.

    Sake van geslagsgeweld geniet ook hoë prioriteit in howe.

    Wit­ness Tiva, woord­voer­der van die depar­te­ment van gemeen­skap­like ontwikkeling, het in ’n onlang­se ver­kla­ring ge­sê maat­skap­like wer­kers het tot dus­ver 1 013 slag­of­fers van ge­slags­ge­weld in Limpopo bygestaan. Dit is net die slagoffers wat na vore gekom het en is nie ’n ware weerspieëling van wat in gemeenskappe gebeur nie, reken kenners.

    Men­se wat dring­en­de hulp soek in ver­band met ge­slags­ge­weld kan die depar­te­ment se hulp­lyn ska­kel by tel. 0800 428 428 waar­na hul­le na vei­lige ha­wes vir slag­of­fers ver­wys kan word en met maat­skap­like wer­kers in ver­bin­ding kan tree.

Related Articles

Back to top button