Local newsNews

Boere positief ondanks uitdagings

Die Pos het vandeesweek met Floris Booysen, voorsitter van die Potgietersrus-distriks-landbou-unie gesels oor hoe die boerderyvooruitsigte vir 2021 lyk.

Volgens Booysen is daar groot dele van die Springbokvlakte, en veral die Crecy-omgewing, wat steeds baie droog is en sommige boere kon nog nie begin plant nie.

“As dit nie hierdie week reën nie, sal dit baie sleg wees.”

Hy het gesê die Tuinplaas-omgewing is ook nog droog, maar dit neem nie krisisafmetings aan nie. Dié distrik se weiding lyk goed, behalwe in dele van die Marolong-gebied.

“Boere het gehoop dat die Nylrivier al in vloed sou wees en dan sy walle oorstroom om die vlakte te voed, maar ons het nog nie voldoende reën daarvoor gehad nie.”

Hy het sy bekommernis uitgespreek oor die stand van damme; selfs in die bergagtige dele van die Mookgophong-omgewing. Hy is egter baie positief oor vanjaar se graanpryse.

“Graanpryse was nog nooit so hoog nie; veral sonneblomme se prys het nuwe hoogtes bereik. As ons binne die volgende week goeie reën kry, sal baie boere ekonomies kan herstel,” het hy gesê.

Die hoë pryse is danksy internasionale prys wat die hoogte ingeskiet het. Booysen het dit toegeskryf aan die droogte wat in Argentinië en ander Suid-Amerikaanse graanproduserende lande voorgekom het. Hy is voorts baie bekommerd oor die ekotoerisme- en jagbedryf in die omgewing.

“Die inperking het regtig ’n baie negatiewe uitwerking op ons wildboere gehad en ons kan sien dat van hulle tans swaarkry.”

Hy is van mening dat die inperking en aanklokreël wel ’n positiewe uitwerking op die vermindering van misdaad op plase gehad het. Veediefstal bly egter ’n groot probleem.

“Boere onderneem steeds, in samewerking met veiligheidsmaatskappye, patrollies om die aanvalle op plase te verminder. Ons boere sal positief bly. Ons bid vir goeie reën en ons sal nie gaan lê of tou opgooi nie; al gebeur wat,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button