LettersOpinion

Brief: Ou vis in die nuwe jaar

As jy nie reg beplan nie, sal jy nie sukses behaal nie.

Ds. Neels van Tonder, Hervormde Kerk Warmbad, skryf:

’n Mens het dit al genóég gehoor: 2020 was ’n jaar met buitengewone uitdagings.

Mense staar hulself soms al te maklik blind teen die slegte goed wat met hulle gebeur.

Teen die einde van ’n jaar kry ’n mens soms die gevoel dat jy heeljaar geswoeg het, maar min gedoen gekry het.

Dié ervaring laat ’n mens aan die dag dink toe Jesus ook ’n klompie vissers langs die meer van Gennesaret gekry het terwyl hulle besig was om hul nette uit te spoel. Hulle het nie veel gevang nie.

Toe vra Jesus vir Simon (Petrus) om terug op die see te gaan (Luk. 5:1-11). Hulle het die hele nag niks gevang nie totdat Jesus hulle aangesê het om hul nette aan die anderkant van die skuit uit te gooi. Daarna het hulle soveel vis getrek dat die nette wou skeur.

Toe Simon Petrus dit sien, het hy voor Jesus se voete neergeval en gesê: Gaan weg van My af, Here, want ek is ’n sondige mens (Luk. 5:8).

Dit is toe dat Jesus vir hom sê: Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang (Luk. 5:10).

Die jaar 2021 sal sekerlik ook sy uitdagings hê, maar reken op die Here in jou lewe.

Kyk ’n bietjie na die wisseling van die oue na die nuwe vanuit ’n ander hoek. Die nuwe sal nie noodwendig minder probleme, misdaad, siekte, dood of moeilikheid hê nie.

Dieselfde vis wat daar in 2020 was, sal ook in 2021 voorkom. Dieselfde familie en vriende sal ook daar wees. Dieselfde politici, of mense wat dalk vir jou ’n bron van irritasie was, sal ook in 2021 daar wees. Waaroor ons wél kan besin, is hoe ons die ou vis in die nuwe jaar kan sorteer of hoe ons daardie vis anders wil vang.

Baie van ons sienswyses en persepsies oor die lewe hang van jou beplanning en hantering daarvan af.

Die Here het aan elke mens ’n gawe gegee wat van jou op jou eie terrein ’n suksesvolle visser kan maak.

Die vraag is net wat jy werklik met jou gawe maak.

Sakekonsultante het al daarop gewys dat die grootste rede waarom mense nie hulle drome en ideale verwesenlik kry nie, is omdat die regte beplanning ontbreek.

Pleks daarvan om deeglik aan hul doelwitte te beplan en ’n strategie daarvoor te volg, slaan mense soms blindelings ’n koers in. So werk dit ook met die lewe. As jy nie reg beplan nie, sal jy nie sukses behaal nie.

Begin by die vertrekpunt om God se gawe vir jou en Sý doel met jou te verstaan.

Al jou gawes én jou lewe is immers deur die Here aan jou gegee.

Related Articles

Back to top button