Local newsNews

Dit is nou genoeg! sê inwoners oor pad

’n Groep inwoners van Bela-Bela het toegangsroetes versper sodat swaarvoertuie nie kon verbykom nie omdat hulle keelvol is vir swaarvoertuie wat die grondpad, wat hulle en besoekers daagliks gebruik, onbegaanbaar verniel.

Padgebruikers kla al lank oor die dienspad agter die Palm Plaza Caltex-vulstasie tussen Bela-Bela en Settlers.

Talle plaas- en hoewebewoners, asook vakansiegangers, gebruik dié pad.

Martin van Blerk, direkteur van die PRSS veiligheidsonderneming, het aan Die Pos gesê die pad het onbegaanbaar geraak weens groot trokke wat bykans daagliks bousand by ’n nabygeleë gruisgroefmyn oplaai.

“Die pad is só verwoes dat al hoe meer inwoners en besoekers gereeld in die sand vasval. Dit is ’n nagmerrie vir motorryers wat karavane sleep. Die middelman van dié grondpad het op plekke hoër geraak as die ryvlak aan albei kante waar voertuie se wiele moet wees,” het hy gesê.

Hy het gesê die padtoestand het ’n negatiewe invloed op die toerismebedryf. Besoekers wil nie die gevaar loop om hul voertuie te beskadig nie en bespreek daarom by ander plekke waar die toegangsroetes beter in stand gehou word.

Van Blerk en sy veiligheidspan se diensvoertuie het self al verskeie kere daar vasgeval.

Beswaarde inwoners het die pad op Dinsdag 29 Desember met hul voertuie versper sodat geen trok die pad kon gebruik nie.

Van Blerk het gesê die plan het goed gewerk en trokdrywers het ingestem om voortaan ’n ander roete na en van die groef te gebruik.

Daar word kliphard gewerk aan planne om die pad te herstel, het Van Blerk gesê.


Skandeer die foto met jou slimfoon in die gedrukte uitgawe van Die Pos vir die video op PixzAR

Related Articles

Back to top button