Local newsNews

Karin leef onverskrokke

Wanneer ’n mens Karin van der Merwe (51) van Mookgophong ontmoet, staan jy verstom oor die vermoë van hierdie vrou en hoe onverskrokke sy die lewe aanpak, ongeag haar omstandighede en gesondheid.

Van der Merwe is in 2006 met terminale kanker gediagnoseer en het polisistiese niere — ’n toestand wat oorerflik is.

Haar pa en broer het albei op ’n jong ouderdom aan dié niersiekte gesterf. Haar ma is ook aan kanker oorlede.

Van der Merwe se gesondheid was in ’n stadium só sleg dat sy van voor af moes leer lees en praat. Sy is egter ’n slimkop en kreatiewe mens en het ondanks slegte gesondheid steeds aangehou om skeppend te wees.

“Ek het my kreatiwiteit by my ma geërf,” het sy aan Die Pos vertel.

Sy het al sementkruiepotjies gemaak, 30 dekens gekwilt, sy skilder, maak die mooiste lappoppe en nou het sy ook haar skryftalent afgestof en is besig om “stories”, wat op ware gebeure gegrond is, te skryf. Haar droom is om een van die dae die stories in boekvorm uit te gee.

Die meeste hiervan is komies van aard. Daar is ook hier en daar ’n meer ernstige verhaal.

“Ek wil graag eer gee aan my goeie vriende, Bennie en Magdaleen Greyvenstein, wat elke Sondag vir my kom kuier en my aangemoedig het om al die snaakste stories wat ek vir hulle vertel het, op skrif te stel. ’n Boek kan dalk help met die baie mediese kostes wat ek tans het,” het sy gesê.

Van der Merwe het in 1978 van Nigel na Mookgophong verhuis. Sy het tuinboukunde aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en ’n paar draaie geloop voordat sy weer teruggekeer het na die dorp om haar pa te versorg.

Inwoners sal haar onthou as die vrou wat vir baie jare ’n bakkery in die hoofstraat bedryf het. Haar intensiewe behandeling die afgelope 14 jaar, wat chemoterapie insluit, kon steeds nie haar lewenslus blus nie. Sy het haar huis in die dorp verkoop en woon nou in ’n woonstel by Lewensvreug.

Sy deel haar huis met haar troetelkat, Johannes (wat eintlik net die verkorting van Your Highness is) en hy is haar lewe.

Sy het ’n vrolike blomtuin op die stoepie voor haar huis. Van der Merwe is in ’n rolstoel en kry meer as een keer per week hemodialise by ’n spesialiskliniek in Modimolle. Sy het erge nierversaking en wag vir ’n geskikte nier vir ’n nieroorplanting.

Sy het haar dankbaarheid uitgespreek teenoor elkeen wat elke keer bereid is om haar vir behandeling Modimolle toe te neem.

Sy sê die gemeenskap staan haar getrou by.

“Sy is ’n ongelooflike positiewe mens en raak elkeen wat sy ontmoet se lewe op ’n besondere manier aan en die positiewe wyse waarmee sy alles aanpak, is die rede vir haar sukses,” het Corietha Steenkamp, ’n vriendin, gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button