Local newsNews

Owerhede struikel oor dorpsname

Moenie sleg voel indien jy sukkel met die verskil tussen Mookgophong, Mokopane, Modimolle en Mogalakwena nie — die regering weet duidelik self nie altyd mooi wat die verskil is nie.

Daar was heelwat verwarring oor die Covid-19 statistieke wat deur die departement van gesondheid in Limpopo uitgereik is toe daar ’n oënskynlike drastiese toename in aktiewe gevalle en sterftes in die Mookgopong/Modimolle-munisipaliteit aangetoon is.

Die Pos het by Marlene van Staden, burgemeester van Mookgopong-Modimolle aangeklop, om agter die kap van die byl te kom.

Volgens ’n betroubare bron in die departement van gesondheid in die Waterberg-distrik, was daar ’n “rekenaar/tegniese fout” wat veroorsaak het dat Mokgalakwena se syfers met Mookgopong-Modimolle se syfers omgeruil is in die tydperk vanaf 4 tot 9 Januarie.

“Hoewel niemand die regulasies tydens die pandemie moet verslap nie, is dit ’n verligting om te sien dat die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit tans slegs 133 aktiewe gevalle het, in vergelyking met Mogalakwena wat tans 563 aktiewe gevalle het,” het Van Staden gesê.

Volgens die Waterberg se departement van gesondheid is daar onsekerheid by die publiek oor die stappe wat hulle moet neem wanneer hulle in nabye kontak was met iemand wat Covid-19 het of enige simptome toon.

Mense wat nie beskik oor ’n privaat mediese fonds nie, moet na die openbare klinieke in Modimolle of Phagameng of by die FA Odendaal Hospitaal gaan om getoets te word vir Covid-19.

Indien iemand positief getoets is, moet hulle tuis self-isoleer vir ’n minimum van 10 dae.

Die departement het ’n taakspan wat hierdie pasiënte elke dag bel gedurende hierdie tien dae tydperk en hulle gesondheid moniteer.

Die Pos het met ’n leser, Lorraine van der Merwe, gesels. Sy en haar man het op Woensdag 29 Desember positief getoets en tuis geïsoleer.

Hulle is persoonlik gekontak en het ook eenmaal ’n tuisbesoek van ’n amptenaar van die departement van gesondheid ontvang. Hulle is albei op die herstelpad en hoop om binnekort weer hul gewone dagtake te hervat. In gevalle waar iemand by ’n kliniek positief getoets is en te siek is om huis toe te gaan, word ’n ambulans ontbied om die pasiënt na die naaste hospitaal te neem.

Volgens ons bron by die Waterberg-distrik departement van gesondheid is die Covid-19-hospitaal in Modimolle slegs vir baie ernstig siek pasiënte wat aan ’n spesifieke kriteria voldoen.

Pasiënte word deur hospitale in die omgewing verwys om daar intensief behandel te word met ’n pasiënt/verpleegster-ratio van een tot een.

Related Articles

Back to top button