LettersOpinion

Brief: Dit was nou voorwaar goeie diens

Hartlike dank aan die personeelkorps wat hul taak met vreugde en ywer aanpak.

Rita en Nick Noeth, Kokanje-aftreeoord, Modimolle, skryf:

Ons wil graag twee regeringsinstellings in Modimolle se amptenare bedank vir hul buitengewone goeie diens.

Ons het die plaaslike lisensieafdeling van die munisipaliteit verlede jaar besoek om ons bestuurslisensies te hernu.

Ons is vooraf deur vriende gewaarsku dat die ry buite soms baie lank is en dat ons moet voorsiening maak vir lank wag in die bloedige warm son. Dit was dan ook so, maar die ry het beweeg.

Toe ons eers by die kantoordeur in is, het ’n netjies ry stoele vir ons gewag.

Die nodige voorsorgmaatreëls in die bekamping van die Covid-19-virus is streng gevolg. Hoewel daar ’n kort oponthoud met rekenaars was wat van lyn af was, het ’n tegnikus gou die probleem opgeklaar en het die proses gevloei. Al die personeellede was vriendelik en baie hulpvaardig.

Hulle het gesê dit sal etlike weke neem vir die lisensies om gedruk te word en dat hulle ons per SMS in kennis sal stel wanneer ons die dokumente kan afhaal.

By die afhaal van die lisensies is ons weer deur vriendelike personeel gehelp en was ons gou weer in besit van geldige rybewyse.

Ons hartlike dank aan die personeelkorps wat hul taak met vreugde en ywer aanpak.

Die tweede pluimpie gaan aan die polisiebeamptes en ondersteuningspersoneel by die Modimolle-polisiestasie.

Ons het tussen Kersfees en Nuwejaar ook die verpligte hernuwing van wapenlisensies afgehandel.

Die diens by dié stasie was puik en die vriendelike personeel het verseker hul werkgewer se naam hoog gehou.

Dankie, julle is staatmakers en ’n aanwins vir die gemeenskap.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button