Local newsNews

Polisieman groet ná 37 jaar diens

Kapt. Eric van Heerden van Mookgophong het einde 2020 dié beroep, wat hy 37 jaar lank passievol uitgeleef het, finaal gegroet.

Die Pos het met hom gesels oor sy loopbaan in die polisie.

Hy het gesê daar was baie hoogtepunte in sy loopbaan, maar ook laagtepunte waaroor hy liefs nie wil uitbrei nie.

“Ek wil die gemeenskap, en veral die boere, bedank vir hul samewerking deur die jare. Ons het hande gevat en hulle was altyd bereid om te help. My boodskap vir die polisiemanne en -vroue is een van saamstaan, saamwerk en positief bly in ’n baie moeilike, maar vervullende taak wat julle het,” het hy gesê.

Van Heerden is op 11 Mei 1964 in Venterdorp in die Noordwes-provinsie gebore. Hy het in 1983 aan Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong gematrikuleer en daarna by die Suid-Afrikaanse polisiediens ingeval. Hy het sy diensopleiding in Pretoria ontvang en onder meer by die wag-eenheid diens gedoen.

Die Waterberg en Bosveld was egter in sy bloed en hy is in 1986 na Vaalwater verplaas en die volgende jaar na die destydse Naboomspruit (Mookgophong). Van Heerden is vinnig bevorder en was in die vroeë negentigs stasiebevelvoerder by die Dorset-polisiestasie in die pragtige Vaalwater-omgewing.

Hy het twee jaar later teruggekeer na Mookgophong en is in 1996 bevorder tot offisier en hoof van die sigbare polisiërings- eenheid (Vispol). Daar het hy ’n groot rol gespeel in misdaadvoorkoming en -bestryding in die dorp en omgewing.

“Dit was ’n plesier om saam met Van Heerden te werk. Hy het ons altyd op ons tone gehou en geglo ’n ding is reg of weg. As daar ’n sperdatum van enige aard was moes die taak stiptelik voltooi word,” het sers. Marietjie van der Merwe, een van sy jarelange kollegas in Mookgophong, aan Die Pos gesê. “

Hy was altyd eerlik en opreg en het geen doekies omgedraai nie. Sy kollegas het geweet waar hulle met hom staan.

Dit was ’n voorreg om saam met hom die gemeenskap te dien. Ons hoop hy geniet sy welverdiende rus en dat daar net voorspoed vir hom op sy pad voorlê.”

Van Heerden gaan nog in die dorp woon, maar het nou meer tyd om hom op sy beesboerdery buite Vaalwater toe te spits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button