CrimeNews

Mookgophong-inwoner sy vakansiegeld kwyt

’n Inwoner van Mookgophong het met die hande in die hare gesit nadat hy op Oukersdag (24 Desember) van sy vakansiegeld besteel is.

Koos van der Berg (83) en sy vriendin, Hermien du Toit, was gereed om met vakansie te vertrek toe ’n booswig sy beursie met R10 000 uit sy wooneenheid in Vyfdelaan gesteel het.

Volgens hom het hy net gou gery om ’n ekstra stel huissleutels aan die persoon te gaan gee wat na hul plekkie sou omsien terwyl hulle weg is met vakansie.

Die booswig het in dié kort rukkie toegeslaan en die beursie gesteel.

“Met my terugkoms het my buurman my meegedeel dat daar nou net iemand in my huis was. Hermien was ook tuis, maar onbewus van die indringer. Hy het niks anders as die beursie gesteel nie,” het hy vertel.

Van der Berg woon oorkant die munisipale gebou se agterkant waar daar vroeër ’n parkie was.

“Daar is hawelose mense wat in die lang gras onder die bome bly en ek vermoed iemand het daar geskuil en toe hy sien ek ry, het hy in die huis geglip en my beursie gevat. Die beursie is later deur ’n polisieman se dogter agter Obaro opgetel. Net die geld is geneem en gelukkig was dit nie nodig om kaarte te vervang nie,” het Van der Berg aan Die Pos gesê.

Hy het gekla dat die gras steeds nie gesny is nie en dat dit ’n veiligheidsgevaar vir inwoners in die straat inhou.

Hy het die geld oor ’n tydperk bymekaar gemaak sodat dit nie op een slag onttrek moes word nie.

Marlene van Staden, burgemeester, het by navraag aan Die Pos gesê sy is bewus van die voorval. Volgens haar het sy by meer as een geleentheid ’n versoek aan die betrokke amptenare gerig om die gras te sny.

“Ek gaan dit nou weer versoek en hopelik sal dit dan gesny word,” het sy op Maandag 11 Januarie gesê.

Sy het ook gesê die departement van sosiale ontwikkeling sal streng moet optree teenoor haweloses wat openbare plekke onwettig beset. Sy het gesê dit hou verskeie gevare vir inwoners in, waarvan sanitasie een is.

Related Articles

Back to top button