Local newsNews

Onderwyslegende van Bela-Bela onverwags oorlede

Leopold Charles (Louis) Branders (75) van Bela-Bela is op Woensdag 6 Januarie by sy huis in die dorp oorlede.

Louis was getroud met Corlia Branders, bekende sielkundige van die dorp.

Louis het voor sy aftrede diep spore in die onderwys getrap. Hy het aan die Onderwyskollege in Heidelberg gestudeer waarna hy sy onderwysdiploma en later sy graad- en honneursgraad in ekonomie by die Potchefstroomse Universiteit vir CHO verwerf het.

Hy het jare lank onderrig gegee en was ook vir ’n aantal jare hoofeksaminator van die vak tik. Hy het studiegidse in ekonomie vir matrieks opgestel en met sy aftrede was hy ’n vakadviseur.

Hy en Corlia het in 1974 ontmoet. Drie kinders is uit die huwelik gebore.

“Hy was bekend daarvoor dat hy nie graag die kollig op homself wou hê nie, maar hy het ander mense op sy nederige manier aangemoedig. Hy kon dit regkry om die beste uit sy onderwysers, kinders en vriende te haal,” het Corlia aan Die Pos gesê.

Louis was in 2002 in ’n ernstige motorongeluk betrokke wat daartoe gelei het dat sy regterhand verlam was.

“Dit was vir hom soms moeilik om sekere alledaagse takies te verrig. Hy was lief vir kook en bak en was gereeld in die dorp vir inkopies,” het Corlia vertel.

“Wanneer hy van die dorp af gekom het, was hy altyd so dankbaar vir die hulp by die kassiere, apteke of ander sakeondernemings. Hy het gereeld vertel van die mense van Bela-Bela se mooi gesindheid teenoor hom.”

Corlia het gesê haar man het ná aan God geleef en ’n nederige bestaan gevoer.

“Hy was ’n inspirasie en ’n wyse man wat met min vertoon ’n verskil gemaak het in talle mense se lewens.”

Corlia het gesê die presiese oorsaak van Louis se dood is nog onbekend. Louis laat sy vrou, drie kinders en agt kleinkinders agter.

Hul een dogter, Mariëtte, woon in Nederland en die ander seun en dogter, Willie en Martlie, woon in Australië. Sy skoonma, Marie Booysen, het veral ’n sagte plek vir hom gehad, het Corlia gesê.

’n Virtuele diens sal gehou word om sy lewe te gedenk, het Corlia gesê. Die reëlings sal later bekend gemaak word.

Related Articles

Back to top button