Local sportSport

Sorg vir selfvertroue én selfverdediging

Enige professionele kontaksportafrigter kan getuig dat ’n geveg nie met die eerste hou beslis word nie.

Dit geld ook vir mense wat in hul daaglikse lewe met gevaarlike situasies gekonfronteer word.

Johan Pienaar, ’n veteraanskopboksafrigter is die eienaar en bestuurder van ’n vakansie-oord op die Noodhulphoewes buite Bela-Bela.

Hy het nog altyd daarvan gedroom om mense toe te rus om hulself te verdedig.

“Skopboks is ’n vegkuns wat ’n persoon ’n beter kans op oorlewing in enige situasie bied. Dit verg konsentrasie en stel jou in staat om besluite blitsvinnig te neem en daarvolgens te reageer,” het hy gesê.

Pienaar het in die vroeë tagtigerjare as dienspligtige met skopboks kennis gemaak. Hy het afrigting by die legendariese skopboksafrigter Johann Haywood gekry en 16 jaar lank self atlete in dié sportkuns afgerig. Hy het nie minder nie as 11 Springbok-vegters in sy gimnasium opgelei.

Hy het in 1987 die Transvaalse middelgewigskopbokstitel verower en met volgehoue harde werk en deursettingsvermoë in 1993 vir die eerste keer Springbokkleure verwerf.

“Ek was in 2019 in ’n fratsongeluk betrokke terwyl ek besig was met tegniese werk. Die aanduiding was dat ek die gebruik van my regterarm sou verloor weens my besering,” het hy vertel.

Sy goeie vriend, Jacques Bosch, het hom egter deur die emosionele mynveld gelei.

“Hy het my bygestaan toe ek in sak en as was. Daar het ek besluit dat niemand te oud of te verpletter is om weer oor te begin nie.”

Sy gesondheid het aansienlik verbeter danksy goeie terapie en sy passie vir die sport.

“Ek is nou op die punt dat ek kennis wil teruggee. Ek weet ek kan van ons plaaslike sportmanne en -vroue help om groot hoogtes in skopboks te bereik. Dit bly ’n mededingende sport en vereis harde werk en dissipline, met die bonus dat jy jouself in die proses goed kan verdedig.” Volgens hom het hy geriewe beskikbaar waar belangstellendes opgelei kan word. Die sentrum sal primêr op skopboks fokus, maar sessies om verskeie ander vegkunste aan te leer is ook in die vooruitsig. “ Elkeen wat hul selfvertroue wil opbou en leer om hul man te staan, is welkom om aan te sluit.”

Vir navrae kan mense vir Pienaar bel by tel. 082 926 3529.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button