Local newsNews

Geite en giere…

Wat gebeur in- en om die Waterberg

Stolla en Mary Stoltz van Bela-Bela het in Desember na Kathu in die Noord-Kaap verhuis. Hulle verhuising laat ’n groot leemte op die politieke front in Bela-Bela. Stolla was die voorsitter van die plaaslike Vryheidsfront-Plus-tak (VF Plus) en Mary het al die sekretariële verpligtinge vervul. Stolla het by navraag aan Die Pos gesê hulle tree nou amptelik uit die politiek. Die provinsiale bestuur het intussen aangedui vergaderings sal belê word om ’n nuwe voorsitter en sekretaris te verkies. Die Stoltz-egpaar het baie werk onder minderbevoorregtes in die gemeenskap verrig. Hulle bedank die vriendelike inwoners van Bela-Bela vir ondersteuning in hul onderskeie projekte.

 

Die slange was behoorlik bedrywig tydens die warm Kersseisoen. Jan Louis Jacobs, slangvanger van Bela-Bela, het sedert middel Desember tot vandeesweek vier wipneuskobras, twee luislange, een Mosambiekse spoegkobra, twee pofadders, een swartmamba, een kortsnoetsweep-slang en een gevlekte skaapsteker van verskeie eiendomme in die gebied verwyder. Die slange is almal hervestig in die natuur. Volgens hom is die slange meer aktief as die temperature hoog is. Mense word aangeraai om professionele slangvangers te kontak om slange te verwyder wanneer hulle mense bedreig. Op die foto is Jacobs besig om ’n pofadder te vang. Mense kan hom bel by tel. 064 531 2473.

 

Lede van die African Wildlife Services (AWS) in Bela-Bela het op Saterdag 26 Desember, in samewerking met die Safari Club International (SCI) in Amerika, ’n reusebydrae gemaak tot die Groter Balepye-natuurreservaat in die Phalaborwa-omgewing. Daar is altesame 350 kg vleis geskenk en finansiële bydraes is gemaak vir die totstandkoming van ’n opleidingskool. Die voedselskenking is gemaak om die druk wat die Covid-19-pandemie op die gemeenskap gehad het, te verlig. Daar is veral gefokus op dagsorgsentrums wat 400 kinders daagliks moet voed. Die natuurreservaat het destyds ontstaan ná ’n suksesvolle grondeis. Rolspelers, soos AWS, het ingetree om die projek suksesvol te bestuur en die boerdery volhoubaar te maak. Die plaaslike gemeenskap is die begunstigdes in die grondhervormingsprojek en hulle word met vaardighede toegerus om die wildbedryf uit te bou. Op die foto is die gemeenskap en lede van AWS tydens die oorhandiging.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button