Local newsNews

Dié jaar was een met talle uitdagings

Die jaar 2020 sal sekerlik in die geskiedenisboeke bekend staan as dié jaar waarin mense die grootste struikelblokke van hul lewens te bowe moes kom. Marietjie Steenkamp het by ’n paar lesers van Mookgophong gaan uitvind hoe hulle dié karnallie van ’n jaar hanteer het.

Vir Hanri de Jager was dit ’n jaar van baie nuwe uitdagings. Haar man, Rinus de Jager, het op 1 Januarie 2020 as nuwe skoolhoof van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong begin.

Sy moes eers nog in Mogale City (Krugersdorp) skoolhou en het tussen die twee dorpe gependel toe die grendeltyperk aangekondig is.

“Covid-19 het vir my baie vroeër begin as wat dit in Suid-Afrika begin het toe my broer, sy Amerikaanse-vrou en hul twee kinders van drie en vyf jaar uit China hier geland het om te vlug van die Covid-19-pandemie. Hulle albei woon en werk in China. Dié kuiertjie, wat aanvanklik twee tot drie weke sou duur — het uiteindelik vier maande geword,” het sy aan Die Pos gesê.

Die gesin is eers einde Mei deur die VSA gerepatrieer. Die uitdaging van twee huisgesinne in een huis en die bekommernisse oor die pandemie, asook die nuwe roetine, was ’n groot uitdaging, maar volgens Hanri het die wete dat sy elke dag met ’n doel voor oë moes opstaan, haar staande gehou.

Anina van der Sandt was vanjaar ’n eerstejaaronderwysstudent.

Anina van der Sandt (19) het in 2019 gematrikuleer en was vanjaar ’n eerstejaaronderwysstudent.

Sy het aan Die Pos gesê die grootste uitdaging van 2020 was die feit dat sy haar studies op haar eie moes doen.

“Dit was moeilik om nie kontakklasse te hê nie. Ons kom uit ’n skoolstelsel waar alles aan studente verduidelik word. Al my werk moes skielik deur selfstudie en aanlyn gebeur,” het sy vertel.

Volgens Anina het dié jaar haar egter sterk gemaak en glo sy dat daar ’n doel agter alles is.

Charlotte en Hèleni Genis is ’n ma en dogter wat mekaar bitter min gesien het tydens die inperkingstyd.

Vir Charlotte Genis was dit ’n groot uitdaging om haar oudste dogter, Hèleni, ná ’n naweek se kuier onder streng voorsorgmaatreëls moes groet.

Hèleni is ’n teatersuster in Pretoria en was in die voorste linie tydens die grendeltydperk.

“Sy moes in die hoësorgeenheid werk en ook die afdeling waar pasiënte wat simptome van Covid-19 getoon het, gewag het op hul uitslae.

Dit was senutergend en emosioneel uitmergelend, want die gedagte dat dit die laaste kuier was, was maar in my agterkop. Volgens haar het die onsekerheid haar amper ondergekry, maar nou kan sy nie glo dat die jaar op sy rug lê en dat hulle daar deur is nie.

Liana Geyer is ’n afgetrede onderwyser van Mookgophong wat sê sy het tydens die grendeltydperk besef sy kan maklik ’n kluisenaar word.

Liana Geyer is ’n afgetrede onderwyser en boer van die omgewing.

Vir haar was die grootste uitdaging om gewoond te raak aan die byna permanente dra van ’n masker.

“Dit was regtig ’n uitdaging om een te kry wat gemaklik pas. Ek het letterlik alle soorte probeer om die beste een te kry,” het sy laggend vertel. Die laatslaap en tuisbly was vir haar een van die positiewe dinge tydens die grendeltydperk.

“Ek het agtergekom dat ek eintlik ’n kluisenaar is,” het sy spottenderwys gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button