Local newsNews

Danika is ’n gebore ster

Wanneer ’n mens die 11-jarige Danika Botes van Mookgophong die eerste keer ontmoet, kruip dié fyngeboude meisie dadelik in ’n mens se hart.

Danika is op 23 Julie 2009 met Downs-sindroom gebore. Sy is die oudste van Quinton en Marise Botes se drie kinders.

Sy is in Laerskool Eugène N. Marais in die dorp en sal in 2021 in gr. 4 wees.

“Sy is ons eersteling en ons was nie bewus van haar diagnose totdat sy gebore is nie. Sy kon nie self asem haal nie, sy kon nie drink nie en het twee gaatjies in haar hart gehad,” het Marise aan Die Pos vertel.

Danika was aan ’n ventilator gekoppel en het buisvoeding ontvang.

“Ons was baie onseker oor haar toekoms, maar ná twee maande in die intensiewe sorgeenheid het sy reeds vir ons gewys dat sy ’n vegter is en dat sy met die Here se genade baie gouer as verwag sal kan huis toe gaan.”

Die eerste paar jaar was sy ge- reeld in die hospitaal. Sy het fisio-, spraak- en –arbeidsterapie ontvang vandat sy drie maande oud was.

“Ons het net aanhou werk om mylpale te bereik en om soveel moontlike blootstelling vir haar te gee sodat sy so normaal as moontlik kan leef. Daar is nie ’n spesiale wêreld vir haar nie. Sy moet kan aanpas en onafhanklik wees en eendag selfonderhoudend kan wees,” het Marise gesê.

Down-sindroom het haar nie gestuit om op ’n jong ouderdom reeds groot hoogtes te bereik nie. Een hiervan is die 83% wat sy onlangs tydens die Limpopo Amateur Dance Festival (LADF) by Castle de Wildt buite Modimolle behaal het. Dit was die eerste keer dat sy ’n solo gedans het.

“Daar was 300 items en Danika het besonder goed presteer,” het Bonita Jacobs, haar dansafrigter, gesê.

Danika het op 2 Desember 2017 haar voorliefde vir dans getoon toe sy in die Point Hatfield Plaza se teater gedans het en as die junior wenner aangewys is. Sy was die enigste deelnemer wat Downw-sindroom gehad het.

Sy was ook in Oktober 2019 deel van die “In Spite Of”-konsert wat in die Pierneef-teater in Pretoria gehou is vir die bewusmaking van die diversiteit in mense wat struikelblokke moes oorkom. Sy is op Sondag 1 November vanjaar aangewys as die Downs-sindroomvereniging van Pretoria se presteerderder van die maand en verskyn ook op hul webblad.

Danika het ook verlede jaar op eNCA se webblad verskyn nadat sy die 80 m vir meisies in haar ouderdomsafdeling op ’n Downs-sindroomatletiekbyeenkoms gewen het en daarna het sy ook met die louere weggestap by ’n Tuks-atletiekbyeenkoms vir leerders met Downs-sindroom.

Sy het vanjaar aan die internasionale virtuele Be Beautiful Be Yourself-modeparade (wat gewoonlik in Denver in die VSA plaasvind) deelgeneem. Sy was die enigste model uit Suid-Afrika wat deelgeneem het.

Die modeparade word deur die Global Downs Syndrome Foundation gehou en elke model het ’n bekende glanspersoonlikheid gehad wat hulle voorgestel het. Danika is voorgestel deur Kim Christiansen, ’n bekende nuusleser in Amerika.

Die jonge Danika is ook ’n kra nige swemmer. Sy het reeds op 15 maande begin swem en het in 2018 aan haar eerste gala deelgeneem.

Sy blink ook uit in ander sportsoorte en is reeds vroeg vir haar skool se netbalspan gekies.

Sy is volgens haar ouers gewild by haar skool en neem aan verskeie aktiwiteite deel. Sy sing koor, doen gimnastiek en het selfs op driejarige ouderdom geleer perdry.

Related Articles

Back to top button