CrimeNews

Blitsige optrede ná plaasaanval

Lede van die Heritage Protection Groep (HPG), asook die Roedtan-polisie, boere en buurtwaglede het op Saterdagaand 5 Desember flink gereageer op ’n noodoproep ná ’n plaasaanval in die Roedtan-omgewing.

Volgens die eienaar van die plaas is die kragtoevoer na sy huis afgeskakel. Hy het ondersoek ingestel by die paal wat sowat 30 m van sy huis af is, het ’n lid van HPG aan Die Pos gesê.

Die slagoffer verkies om anoniem te bly weens veiligheidsredes.

Die man is by die paal deur vyf verdagtes aangeval. Een aanvaller het twee skote met ’n klein kaliber handwapen op hom probeer afvuur.

Die wapen het albei kere onverklaarbaar nie afgevuur nie en die man kon daarin slaag om voor die aanvallers te vlug en die veiligheid van sy huis bereik. Hy het daarna met sy eie vuurwapen op die verdagtes gevuur waarna hulle op die vlug geslaan het.

Die buurtwag en polisie is in kennis gestel en was gou op die toneel. Spore is gevolg en ’n selfoon is by die draad gevind waar die aanvallers vermoedelik deur die heining gekruip het. Die spore is gevolg tot waar dit by ’n aangrensende wildsplaas doodgeloop het.

Die aanvallers was só uitgeslape dat hul hulle skoene uitgetrek het en verder op hul kouse gevlug het. Die spoorsnyers kon die spore net tot in die lang gras volg, het die HPG-lid gesê.

Volgens Floris Booysen, voorsitter van die Potgietersrus Distriklandbou-unie, teister booswigte die laaste vier maande die plaaswerkers van Haakdoring, Koelemansrus en Verweg sodra hulle hul lone teen maandeinde ontvang. Daar bestaan ’n vermoede dat dit dieselfde booswigte is wat ook by die plaasaanval betrokke was.

’n Groep booswigte het op Dinsdag 1 Desember om 00h15 toegeslaan op werkers in die Haakdoring-omgewing en arbeiders van drie verskillende plase beroof.

Die verdagtes het een slagoffer se vinger afgekap tydens die rooftog. Senyaka Nyaka Sekuriteit is ontbied en het dadelik met ’n ondersoek begin.

Twee verdagtes is op Donderdag 3 Desember in die Zebediela-omgewing in hegtenis geneem. Die ander verdagtes se identiteite is bekend en die ondersoek duur voort.

Booysen het die vinnige optrede van die polisie, boere en ander veiligheidsgroepe geloof. Hy het boere gemaan om paraat te wees en bedag te wees op booswigte wat hulle uit hul wonings probeer lok.

Related Articles

Back to top button