MunicipalNews

Adjunkminister van water beloof om in te gryp by Mookgophong-krisis

David Mahlobo, adjunkminister van water en sanitasie, het die afgelope week besoek afgelê in Mookgophong om die reusewaterprobleme in die gebied te ondersoek.

Die besoek volg op ’n versoek van Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, om ’n oplossing vir die omgewing se waterprobleme te vind.

Die grootste behoefte is vir bykomende watertoevoer om aan die groot aanvraag te voldoen.

Die bestaande infrastruktuur het jaarliks agteruit gegaan omdat daar nooit genoeg geld was om voldoende instandhouding te doen nie.

Die voortslepende droogte het ook tot die waterkrisis bygedra, het Van Staden in ’n verklaring gesê.

Drie beoogde projekte is tydens Mahlobo se besoek bespreek waarvoor daar reeds voor 2016 aansoek gedoen is. Dit sluit in instandhouding- en opgraderingsprojekte by die Tinmyn en Welgevonden-dam.

Van Staden het gesê daar is oor die jare verskillende onwettige damme in die opvanggebied gebou wat die vloei van water na die Welgevonden-dam belemmer het. Sy het Mahlobo versoek om ondersoek in te stel oor dié onwettige damme en gevra dat geldige waterlisensies van verbruikers nagegaan moet word.

Volgens Van Staden is die watersuiweringswerke by die myn veronderstel om sedert 2006 een mega-liter water per dag aan Mookgophong te voorsien.

“Die verbruikerslisensie is tot op hede uitstaande en die myn het nie aan hierdie verwagtinge voldoen nie,” het sy gesê. Instandandhouding is volgens haar dringend by die Welgevonden-dam nodig. “Die wal van dié dam het versterking nodig en die dam moet skoon geskrop word om weer die maksimum water te kan hou.”

Sy het gesê die adjunkminister het onderneem om ’n span ingenieurs vir die projekte beskikbaar te stel en gereelde terugvoer oor die vordering en afhandeling van die projekte te gee. Hy het ook onderneem om ekstra werkers en toerusting beskikbaar te stel om behulpsaam te wees met die skoonmaak van die Frikkie Geyser-dam.

“Die adjunkminister het onderneem om tegnologie, vaardige mense en geld beskikbaar te stel om die dorp se waterbehoeftes aan te spreek,” het Van Staden gesê. “Ek wil die inwoners van Mookgophong bedank wat in dié tyd self bygedra het om van die probleme te probeer oplos.”

Related Articles

Back to top button