Boeremusiek herleef in Leeupoort
Die konsertinas het behoorlik gehuil toe konsertinaspelers op Saterdag 7 November tydens die jaarlikse Boeremusiekfees in Leeupoort-vakansiedorp buite Bela-Bela ’n nuwe rekord probeer opstel het.
Dié jaarlikse boereorkesfees word in Leeupoort aangebied en lok besoekers en deelnemers van regoor die land. Daar het vanjaar nie minder nie as 32 orkeste met minstens een konsertinaspeler in elke orkes opgetree.
Pieter Bodenstein het die fees in 2008 begin en sedertdien bars die fees behoorlik uit sy nate.
“Ons het gepoog om ’n wêreldrekord op te stel vir die meeste konsertinaspelers wat op dieselfde tyd saamspeel. Die vorgie rekord is opgestel toe 49 musikante saam konsertina gespeel het. Ons het die getal oortref en vanjaar 50 konsertinaspe- lers van die Kaap tot Musina by een geleentheid op die verhoog gehad.”
“Die groep het almal verras en vier be- kende liedjies gespeel — Waenhuis, Kalfiewals, Connie se seties en Tant San van Christiana. Die gehoor was besonder beïndruk met die gehalte van die opvoering en het dit baie geniet,” het Bodenstein gesê.
Die fees en rekord is opgedra aan Japie Loubscher, bekende Afrikaanse boeremusiek-musikant wat ’n reusebydrae tot die voortbestaan van boeremusiek in Suid-Afrika gemaak het.
Hy is reeds in 1981 oorlede, maar sy musiek leef voort. Bodenstein het gesê die vorige rekord het vir 30 jaar op die rekordboeke gestaan, maar vanjaar is dié boeke herskryf.
Hulle het al die amptelike riglyne vir die rekordpoging gevolg en die organiseerders is in besit van al die bewyse dat die nuwe rekord nou op 50 konsertinas staan.
Verteenwoordigers van die ATKV het die fees bygewoon en toekennings aan die musikante gegee vir hul bydrae tot die bevordering van dié unieke musiekgenre en kultuur, het Bodenstein gesê.