Local newsNews

Geite en giere…

Wat gebeur in- en om die Waterberg?

’n Groep taxi-bestuurders het op Woensdag 2 Desember verkeer op die R101-pad tussen Bela-Bela en Radium vertraag deur die pad te versper. Volgens sers. Frans Maponya, polisiewoordvoerder, het dié protesaksie gespruit uit verskille tussen taxi-eienaars oor die toekenning van sekere roetes en bewerings dat sommige taxi-bestuurders hulle nie aan die afbakening steur nie. Pendelaars wat van die taxi’s gebruik maak moes noodgedwonge saamrygeleenthede soek om betyds by hul werkplekke te wees. Die polisie het die situasie gemoniteer. Die taxibestuurders het later die oggend weer hul werksaamhede hervat.

 

Jeffrey Muron­ga (27) wat aange­kla word van die moord op Mela­nia Ndacha Ru­ben (3) van Vinger­kraal bui­te Be­la-Be­la het op Maan­dag 7 Desem­ber weer in die Bela-Bela-land­dros­hof ver­skyn. Muron­ga word daarvan verdink dat hy die meisietjie in Novem­ber ver­moor en daarna vir ’n week in die bosse geskuil het om die polisie te ontduik. Lede van die Vingerkraal-gemeenskap het hom glo daar gevind en aangerand. Mu­ron­ga het sy borg­tog­aan­soek laat vaar en sy saak is uitgestel tot Dins­dag 23 Fe­brua­rie aanstaande jaar. Hy bly in aan­hou­ding.

 

Die po­li­sie in Mo­dimol­le is op soek na Gert Gerhar­dus Buys (49) wat ver­suim het om sy laas­te hof­ver­sky­ning by te woon. Buys staan tereg op ’n aan­klag van ont­voering nadat hy in 2018 ver­bind is met die ver­dwy­ning van ’n 14-ja­ri­ge mei­sie van Modi­molle. Hy is op borgtog van R5 000 vry­ge­laat en moes ge­reeld by sy naas­te poli­sie­sta­sie aan­meld. Hy was teen druk­tyd steeds soek. E­nig­ie­mand met in­lig­ting oor sy bewegings word gevra om AO Koos van der Berg te bel by tel. 072 534 5334, of Ma­nie van der Mer­we by tel. 082 787 0684. Fo­to: Ver­skaf

 

Die Pos het afskeid geneem van Ronel van Jaarsveld wat ses jaar lank ons Modimolle-nuuskantoor behartig het. Sy het in dié tyd diep spore in die joernalistiek getrap en met verskeie benoemings en toekennings weggestap. Sy en haar gesin bly aan in die dorp waar Ronel nou deel van Hoërskool Nylstroom se bemarkingspan word. Sarita Kriek (regs) neem die leisels by haar oor en sal vanaf Januarie Die Pos se nuus in Modimolle hanteer. Foto: Herman Steyn

 

’n Waarderende gehoor van Modimolle is op Donderdag 3 Desember getrakteer met musiek uit die boonste rakke. Die begaafde pianis en begeleier, Sanet Diamond, verhuis eersdaags saam met haar gesin na Bothaville. Sy en haar kollega van Hoërskool Nylstroom, Alida van Heerden, het die gehoor vir oulaas laat besef dat die platteland bevoorreg is om sulke gehalte uitvoerings te kan bywoon. Die musiek-duo het die afgelope agt jaar by verskeie geleenthede opgetree. Op die foto is Diamond voor die klavier en Van Heerden langs haar met die viool.

 

Die Hanna-liefdadigheids- en bemagtigingsorganisasie van Pretoria het 637 kospakkies aan die Bela-Bela-ondersteuningsgroep voorsien. Pakkies is reeds uitgedeel, maar daar is nog 450 pakkies wat voor Kersfees aan behoeftige gesinne uitgedeel sal word. Behoeftiges in die Bela-Blea-omgewingkan vir Jaco de Jager bel by tel. 071 687 0969. Op die foto by die skenking is David Schabort (Mnr. Suid-Afrika-finalis), Rika Kruger, Stephanie Henning en Jaco de Jager wat gehelp het met die vervoer en verspreiding van die pakkies. Die projek is aangepak onder leiding van Lizal Stander van Pretoria.

 

Die Vroue Landbou-unie se Sonskyn-aandtak in Bela-Bela het op Dinsdag 1 Desember tydens hul Kersfeesete by ’n kuierplek in die dorp hul nuwe bestuur vir 2021 bekend gemaak. Op die foto is Irma Day (voorsitter) en agter staan Lientjie van Wyk (tesourier), Marinda White (sekretaris), Melanie Webb (sameroeper: beoordelaars) en Maria Oberholzer (skakelbeampte).

 

Die Vroue Landbou-unie se Sonskyn-aandtak in Bela-Bela het op Vrydag 4 Desember ’n groot skenking doeke aan Huis Talje, ’n tehuis vir gestremdes in die dorp, gemaak. Op die foto is Cindy de Beer (ontvangsdame by Huis Talje), Irma Day (VLU-voorsitter), Loret Rainer (VLU-lid), Maria Oberholzer (VLU-skakelbeampte) en Alta Niewoudt (maatskaplike werker by Huis Talje).

 

Die nuwe bestuur vir 2021 van die Dameskring in Modimolle is verkies. Hulle is Susan le Roux (voorsitter), Martie Hattingh (tesourier), Riana Viljoen (sekretaris), Anni Niewenhuis (ondervoorsitter) en Linette Smit (addisionele lid).

 

Rex Bonette en Jo-Anne Wolmarans van Bela-Bela is op Saterdag 5 Desember in die huwelik bevestig. Die bruilof is by Shangri-La- Hotel en Spa buite Modimolle gehou. Rex is by Walt Landgoed buite die dorp betrokke en Jo-Anne werk by Numeri Rekenmeesters. Die paartjie is vir ’n welverdiende vakansie na die Marakele-natuurreservaat buite Thabazimbi. Foto: Herman Steyn

 

Jansen Loubser en Amorie Rudolph, albei oud-Warries is onlangs getroud. Dié twee jong ingenieurs is van skooldae af ’n paartjie. Hul bruilofsfees was op Saterdag 21 November by die Dinokeng-wildplaas tussen Bela-Bela en Pretoria. Die twee jongmense het hul reeds in Pretoria gevestig. Amorie is die dogter van André en Christien Rudolph en Jansen die seun van wyle Willie en Rykie Loubser — almal voorheen van Bela-Bela. Foto: Simply Capture

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button