Local newsNews

Man verdrink in Modimolle-dam

Toeskouers het die afgelope week op die wal van die dorpsdam in Modimolle saamgedrom nadat ’n 28-jarige man onder die water verdwyn en die polisieduikers se hulp ingeroep is.

Mense wat kos by die stalletjies langs die dam koop, het glo op Woensdag 25 November gesien hoe die man op die wal loop en daarna onder die water verdwyn.

AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het gesê dit is nie duidelik of die man gegly en ingeval het en of hy doelbewus in die dam geklim het nie.

Die polisie se soek-en-reddingspan is van Polokwane laat kom om die man se liggaam uit die dam te haal.

Dit het die polisieduiker sowat agt minute geneem om hom in die donker water teen die damwal op te spoor.

Die oorledene se naam is nie bekend gemaak nie.

“Ons ondersoek die verdrinking van die man,” het Findlay gesê.

Dit is nie die eerste keer dat iemand in die dorpsdam verdrink nie.

’n Man het in Julie verlede jaar ook in dié dam verdrink nadat hy glo gaan swem het. Dié man het volgens ’n ooggetuie sy klere uitgetrek en in die dam gespring. Hy het glo heen en weer geswem, maar later onder die water verdwyn.

Related Articles

Back to top button