Jeffrey Muronga (27) word daarvan beskuldig dat hy Melania op Dinsdag 17 November vermoor het en haar lyk in ’n nabygeleë stroom gegooi het.
Die kind is in die sorg van bure gelaat voordat sy as vermis by die polisie aangemeld is.
’n Grootskeepse soektog na die verdagte het gevolg. Muronga is ’n week later op ’n nabygeleë plaas opgespoor.
Die Vingerkraal-gemeenskap is deur die plaaseienaar ingelig dat Muronga op die plaas skuil waarna lede van die gemeenskap die plaas gefynkam en die beskuldigde in ’n beboste gedeelte aangetref het.
Hy is daarna aangerand, het kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, vroeër gesê.
Die polisie is ontbied en Muronga is in hegtenis geneem. ’n Groot groep mense het tydens sy hofverskyning in die Bela-Bela-landdroshof in wit hemde voor die hof betoog.
Betogers het geëis dat borgtog nie aan Muronga toegestaan word nie.
’n Man wat homself as ene Benjamin aan Die Pos voorgestel het, het by die hof aan Die Pos gesê hy is Melania se biologiese pa en dat hy ontsettend hartseer is oor sy kind se dood.
Hy het gesê Melania se ma, wie se naam nie bekend gemaak is nie, verwerk haar dogter se dood baie moeilik.
Muronga se saak is uitgestel na Maandag 7 Desember vir die bring van ’n aansoek om borgtog. Hy bly intussen in aanhouding.