Local newsNews

Planne vir beoogde botaniese tuin vorder

Rolspelers van die Bela-Bela-omgewing is steeds fluks aan die planne maak vir die stigting van ’n botaniese tuin net buite die dorp.

Die tuin word beoog op ’n stuk oop grond buite die dorp op die Alma-pad. Daar word beoog dat die tuin sal grens aan die Renaissance-aftreeoord, die woongebied in Huilboslaan en die stuk grond by die dorpsreservoirs naby Panorama Park.

Die grond word as gedeelte 25 op die dorpskaart aangedui en behoort aan die Bela-Bela-munisipaliteit. Inwoners kla al geruime tyd dat onwettige plakkers in dié omgewing die bome in die betrokke veld vir vuurmaakhout stroop.

Daar word ook onwettig rommel gestrooi — nie net deur plakkers nie, maar ook deur inwoners.

Die Wyk 1-komiteelede in Bela-Bela het reeds in 2019 tydens hul maandvergaderings die idee van ’n beoogde botaniese tuin geopper. Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), staan aan die stuur van dié projek.

Hy het vroeër gesê daar is nie ’n ander botaniese tuin in die Waterberg-omgewing nie.

Daar is wel so ’n tuin in Thohoyandou waar unieke flora bestudeer en bewaar word.

“Die stigting van ’n botaniese tuin kan die bewaring van die flora van Limpopo op ’n wetenskaplike wyse bevorder en bydra daartoe om ons dorp as toerismebestemming te bemark. Verder kan die grond ’n aanwins word vir belastingbetalers wanneer eiendomspryse styg. Natuurliefhebbers en skolegroepe kan ook in hul eie omgewing op uitstappies daarheen gaan, het Mills gesê.

’n Petisie is vroeër onder inwoners gesirkuleer ter ondersteuning van die projek en meer as 3 000 mense het dit onderteken.

’n Loodskomitee is ook op die been gebring. Samesprekings is intussen gehou met Christopher Willis, hoofdirekteur van die Suid-Afrikaanse Botaniese Instituut (Sanbi), asook met Thompson Mutshunyalo, wat nou betrokke is by Sanbi se tuinbewaring en toerisme-afdeling, het Mills gesê.

Hoewel Sanbi die projek in beginsel goedgekeur het, sal daar nog baie onderhandelinge tussen Sanbi, die munisipaliteit en ander rolspelers moet plaasvind.

Daar is voorgestel dat die munisipaliteit eienaarskap van die grond behou, het Mills gesê.

Mills het gesê daar was ook ’n voorstel dat die beoogde botaniese tuin ’n paar kilometer verder naby die Marulani-wildplaas aangelê word, maar die loodskomitee is van mening dat Gedeelte 25 meer geskik is vir die projek.

Die konsepvoorstel vir die beoogde botaniese tuin is op Maandag 30 November aan Michael Makhubela, Bela-Bela se munisipale bestuurder, oorhandig vir oorweging.

Mills het voorts gesê Sanbi-verteenwoordigers sal die komiteelede help met die samestelling van ’n voorlegging aan die munisipale raad in 2021.

Vir verdere navrae of insette oor die beoogde botaniese tuin, kan inwoners vir Mills bel by tel. 084 447 3148.

Related Articles

Back to top button