LettersOpinion

Brief: My eerste en laaste mamba

Mamba se kind is nie ’n speelding nie.

Dawie Richter, Bosveldsig, Modimolle, skryf:

Ek verwys graag na die artikel “Ligloop vir slange in die Bosveld” wat op Vrydag 27 November in Die Pos verskyn het.

Ek was destyds stasiebevelvoerder van ’n polisiestasie in die hartjie van die Bosveld en het gereeld slange raakgeloop. Geld was maar skraps en ’n kollega en ek het iewers gelees dat die Pretoriase Dieretuin mense sou betaal vir sekere soorte giftige slange.

Die slange is aangehou en “gemelk” om slangbytserum mee te vervaardig. Daar was ’n garingboombos naby die polisiestasie en dit was ’n slangnes.

So loop ons op ’n middag ’n swartmamba van meer as 2 m daar raak en besluit dat dié knewel vir ons ’n aansienlike bedrag geld in die sak sou bring. Die departement van openbare werke het gereeld inspeksies by polisiestasies gehou en so is daar toe hoeka ’n inspekteur van Pretoria op besoek.

Met die swartmamba stewig in ’n kartondoos verpak het ons die niksvermoedende inspekteur gevra om dié pakkie vir ons by die dieretuin te gaan afgee.

Eie aan die mens se aard het die nuuskierigheid hom oorval en wou hy sien wat die twee polisiemanne met soveel sorg verpak het en het hy die kartondoos oopgemaak.

Volgens kollegas van hom het hy hom behoorlik buite weste geskrik en die hasepad gekies.

Hy het nooit weer in ons omgewing besoek afgelê nie.

Daar het dadels van ons beoogde meevaller gekom en ons het eintlik eers agterna besef dat dit ’n lewensgevaarlike ding was om te doen.

Mamba se kind is nie ’n speelding nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button