TLU waarsku landbouers oor nuwe loonverhogings
Boere staar nuwe uitdagings in die gesig indien die parlementêre minimumloonkommissie die aanbevelings aanvaar om die minimumloon van plaaswerkers te verhoog.
TLU SA het kapsie gemaak oor die minimumlone wat onlangs in die Staatskoerant gepubliseer is. Die publiek word versoek om kommentaar op die voorgestelde loonstruktuur te lewer.
Daar word voorgestel dat plaas- en huiswerkers se minimumlone aangepas moet word sodat dit ooreenstem met wat werkers in ander sektore betaal word.
Die aanpassing sal 1,5% meer wees as die inflasiekoers.
Henk van de Graaf, TLU Noordstreek-voorsitter, het in reaksie gesê die feit dat die graderingsagentskap, Moody’s en Fitch, die land se kredietgradering verder afgeskaal het, is nie goeie nuus vir die landbougemeenskap nie.
Een van die kriteria wat tot verdere afgradering gelei het, was die onbuigsaamheid van ons land se arbeidsmark.
“Talle boere kla reeds dat hulle sukkel om seisoenale voorskotte te kry weens die Landbank wat nie presteer nie en daarom het die landboubedryf dringend nuwe beleggers nodig. Die afgraderings plaas ’n demper daarop,” het Van de Graaf gesê. “Die presiese minimumloon is nog nie bepaal nie, maar dit is ’n feit dat landbouers erg daardeur geraak sal word.”
Hy het voorts gesê die beginsel van ’n afdwingbare minimumloon druis teen die vryemarkbeginsels in en dat selfs arbeiders ’n onreg aangedoen kan word.
Onderhandelinge tussen werkgewers en werknemers sal moet plaasvind indien die beleid toegepas word. Indien werknemers instem tot ’n kleiner salaris is die kanse groot dat die werkgewer vervolg kan word. Werkgeleenthede sal afneem en werkloosheidsyfers sal verder die hoogte inskiet, het hy gesê.
“Boere is afhanklik van pryse wat die mark bereid is om vir hulle produkte te bied. Aan die ander kant word die arbeidsmark streng gereguleer en boere sal nie die verhoogde koste kan dra nie.” Van de Graaf voorspel dat boerdery wat gebruik maak van seisoenale arbeid (soos die vrugtebedryf) die ergste geraak sal word. “Boere wat reeds gemeganiseer het, het vroeër getuig dat dit geldelik sin maak. Met die maandelikse salarisrekening wat nou nog hoër kan word, kan die besparing op arbeid nuwe toerusting finansier. Produktiwiteit word verhoog deurdat werksaamhede nie onderbreek word weens loonsgeskille nie,” het hy gesê.
Kommentaar op die beoogde wetgewing kan gerig word aan die kommissie deur dit te e-pos na Unathi.Ramabulana@labour.gov.za(.) Mense kan ook met TLU in verbinding tree.
“Ek wil tog beklemtoon dat boere nou al somme moet begin maak en vroegtydig begin met gebeurlikheidsplanne wat selfs afleggings kan insluit. Moenie wag totdat dit te laat is nie.”