Local newsNews

Helpende Hand bederf mammas

Die Helpende Hand-tak in Mookgophong was op Saterdag 28 November die gasheer van die Hartklop-Mamma-tak op dié dorp.

Die mammas van Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool in Mookgophong is lekker bederf met ’n heerlike kaas-en-wyn-aand.

Die geselligheid is gereël met die doel om die vroue te laat asem skep en om die spanning en frustrasie van die afgelope jaar, met al sy struikelblokke, af te skud.

Die vroue kon weer ’n slag saam met vriende gesellig verkeer. Volgens Marianthie van der Walt, Helpende Hand se streeksorganiseerder vir Limpopo- en Noordwes, bestaan die tak uit ma’s van die Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool en het hulle die spesifieke behoeftes wat dié skool ondervind aangespreek.

“Die vroue wil graag die skool uitbou en nuwe geleenthede vir die leerders skep. Hulle ondersteun die personeel en versterk hul hande. Die tak is verlede jaar gestig en ons het reeds verskeie opheffingsprojekte by die skool geloods en die bystandfonds wat ons vir die skool geskep het, groei sterk.”

Helpende Hand Limpopo-streek ondersteun gemeenskapsdiens asook skoolprojekte. Hierdie takke skep bystandfondse waarmee korttermynondersteuning gebied word aan ouers wat sukkel om skoolfonds te betaal.

Die fonds help ook met uitgawes vir ontwikkelingsterapie, ekstra klasse, vervoer van leerders, deelname aan sport en kultuur en skoolbenodigdhede.

Van der Walt het die hoop uitgespreek dat die geselligheid ’n jaarlikse instelling sal word. Hulle is reeds besig om ’n vroue-oggend met Nataniël as gaskunstenaar vir vroeg in die nuwe jaar te reël.

Related Articles

Back to top button