Kwaggas staan uit op Loftus
Die Kwagga-rugbyklub van Bela-Bela het uitgestaan met hul rooi hemde tydens die jaarlikse Blou Bul-rugbyraadsvergadering by Loftus Versfeld in Pretoria.
Die vergadering volg op ’n baie uitdagende seisoen vir nasionale, provinsiale en plaaslike klubrugby weens die verbod op alle sportaktiwiteite tydens die Covid-19-pandemie.
Drummond Hammond, Kwagga-klubvoorsitter, het aan Die Pos gesê dat hy, Lappies Labuschagne (afrigter), Chris Goosen (afrigter) en Wynand Booysen snr. (Kwagga-klubpresident en vise-president van die Blou Bulle rugby-unie in Limpopo) die geleentheid op Woensdag 25 November bygewoon het.
Willem Strauss, president van die Blou Bulle-rugby-unie, het in sy jaarverslag gesê die jaar het baie belowend begin, maar rugby het uiteindelik die wind van voor gekry.
Spanne wat aan die Varsity Cup deelgeneem het, het bewys dat professionele spanne genoeg woema het en dat hulle ondanks die inperking fiks gebly het.
Die Vodacom Blou Bulle se o.21-span het in Oktober vir die tweede agtereenvolgende jaar as die o.21-kampioene van die veld gestap.
Die veer in die hoed kom die afrigters en spelers toe, want hulle het in moeilike omstandighede gefokus gebly, het Strauss gesê.
Strauss het gesê die bestuur hoop dat 2021 meer belowend sal wees en dat meer geleenthede vir klubrugby in Limpopo en die Tshwane-gebied geskep sal word. Vroue-rugby sal ook meer aandag geniet. Met die verslapping van die inperkingsmaatreëls het die Super Rugby Unlocked-liga afgeskop.
Sewe provinsiale rugbyspanne het tussen Oktober en November kragte gemeet. Met die aanstelling van Jake White as hoofafrigter van die Blou Bulle-rugbyspan was die verwagtinge groot dat die ligbloues weer gedugte teenstanders sal wees en dit was ook so. Die Blou Bulle het die Unlocked-liga gewen.
Hammond het gesê dit was vir die Kwagga-verteenwoordigers ’n riem onder die hart om te weet dat White as jongspeler op Lord Milner Primary School buite Settlers, waar hy skoolgegaan het, se velde gespeel het.
Die Kwagga-bestuur het die vertroue uitgespreek dat hulle in die toekoms op White se kundigheid kan staatmaak vir die bevordering en afrigting van rugby in Bela-Bela.
Die nuwe seisoen sal nuwe uitdagings bring en daarom is die beplanning baie belangrik vir die Kwagga-klub se algemene jaarvergadering wat vroeg in die nuwe jaar sal plaasvind, het Hammond gesê. Almal is positief oor die nuwe seisoen.
Besoekers het na afloop van die Blou Bulle-vergadering die geleentheid gekry om saam met die bestuur van die Blou Bulle-rugby skouers te skuur en die nuwe Unlocked-liga se trofee te bewonder.