MunicipalNews

Haglike toestand by posbusse in Modimolle

Die posstukke is nat en gevlek van die urine. Die stank was só erg dat sy skoon siek gevoel het.

Dit is die ontstelde reaksie van ’n inwoner van Modimolle nadat sy onlangs haar pos gaan uithaal het.

“Ek gaan eers handskoene moet aantrek voordat ek dit probeer oopmaak,” het sy vies gesê.

Die vloer was volgens haar met plasse urine en gebruikte kondome besaai. Haar posbus is van die onderstes en ontgeld dit wanneer die posbusse as badkamers gebruik word.

Sy het oor die probleem by die poskantoor gaan kla, maar is meegedeel dat hulle niks daaraan kan doen nie, het sy gesê.

Die Pos het al herhaalde kere berig oor inwoners se ontsteltenis oor die stank en onhigiëniese toestande by die posbusse wat onder die bome langs die poskantoor staan.

Die poskantoor is in die middel van die dorp naby die hofgebou geleë. Daar is talle straatsmouse wat daar sake doen.

Wanneer Sassa-uitbetalings gemaak word bring mense baie ure in die omgewing deur. Een van die probleme is egter dat daar nie openbare toilette in die sentrale sakegebied is nie en die posbusse dit dus ontgeld omdat dit ’n mate van privaatheid bied.

’n Motorwag het vroeër aan Die Pos gewys waar ’n munisipale badkamer 30 m verder staan. Nadat vandale dit egter verwoes het, is die deure gesluit.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het aan Die Pos gesê hulle beoog om al die openbare badkamers te herstel en weer te open. Dit is deel van die dorp se geïntegreerde ontwikkelingsplan.

Die Pos het navrae aan die poskantoor se hoofkantoor gerig. Hoewel ’n mediabeampte gesê het dat hulle op navrae sal antwoord sodra hulle die plaaslike tak gekontak het om meer inligting oor die probleem te bekom, is daar teen druktyd nog nie ’n antwoord ontvang nie.

Johan Kruger van die Poskantoor se kommunikasie-afdeling het in Julie 2019 by navraag gesê toegang tot dié posbusse kan nie beheer word nie omdat dit op die sypaadjie staan.

Hy het gesê personeellede maak elke oggend die omgewing skoon en hulle sal die polisie versoek om gereeld patrollies te ry om sluipslapers te ontmoedig om daar te oornag.

Inwoners het egter gesê daar is min of geen teken dat die posbusse hoegenaamd skoongemaak word nie.

Related Articles

Back to top button