MunicipalNews

EFF kla oor diens by hospitaal en polisiestasie

Lede van die plaaslike EFF-party het op Woensdag 18 November ’n draai by die Warmbad- hospitaal en die Bela-Bela-polisiestasie gemaak om oor dienslewering te kla.

Sello Moswoeu, EFF-raadslid en koukusleier, het aan Die Pos gesê inwoners het die party genader met klagtes oor swak dienslewering by die plaaslike hospitaal en polisiestasie.

Hy het aan Die Pos gesê hulle is “nie met ope arms ontvang nie,” maar dit sal hulle nie stuit om hul plig teenoor die gemeenskap na te kom en aan te dring op beter diens nie.

“Inwoners het gekla dat die hospitaalpersoneel nie goeie diens lewer nie en dat pasiënte vir langer as sewe uur moet wag voordat ’n dokter hulle te woord staan,” het Moswoeu gesê.

“Ons het tydens die besoek gevind dat die gebou glad nie in stand gehou word nie. Daar is ’n paar waterlekkasies, die gras is heuphoogte by die sale en die toilette by die kindersorgeenheid is vuil. Ek sal beslis nie my kind na dié hospitaal stuur as die hospitaal in hierdie toestand is nie. Dit is onaanvaarbaar.”

Moswoeu het aan Die Pos gesê Bhuti Moagi, waarnemende hoof van die hospitaal, het glo aan EFF-lede gesê die hospitaal ervaar steeds uitdagings weens die Covid-19-pandemie en daar is personeeltekorte. Moagi het volgens hom onderneem om met die departement van gesondheid in verbinding te tree om die probleme op te los.

Moswoeu het voorts gesê sy party sal ook die toestand van die klinieke by die betrokke owerhede aanmeld.

“Ons het die hospitaalbestuur 14 dae geleentheid gegee om die toestand van die hospitaal te verbeter en daarna sal ons verdere stappe neem. Ons beoog intussen ’n skoonmaakprojek wat ons self by die hospitaal wil uitvoer.”

Die groep het by die polisiestasie met kol. Abel Phetla, stasiebevelvoerder, gesels om diensleweringklagtes te bespreek.

“Mense in die gemeenskap het by ons kom kla dat hulle probleme ondervind om klagtes te lê en sukkel om saaknommers in die hande te kry. Ons het wel ’n goeie gesprek met die kolonel gehad en was tevrede met sy antwoorde hoe die polisie dienslewering gaan verbeter,” het Moswoeu gesê. “Ons het verder versoek dat die polisie veral op die groeiende dwelmprobleem in ons dorp fokus. Die saak moet dieselfde aandag kry as die talle vervolgings van mense wat drink in openbare plekke. Die polisie huiwer nie om sulke mense in hegtenis te neem nie. Hy het ook gesê daar is ’n fyn balans tussen die kleiner en ernstige misdade en die polisie moet dit kan onderskei.”

Related Articles

Back to top button