CrimeNews

3-Jarige se vermeende moordenaar aangekeer

Die vermeende moordenaar van ’n driejarige meisie van Vingerkraal buite Bela-Bela is op Maandag 23 November in hegtenis geneem ná ’n reusesoektog deur polisie en lede van die gemeenskap.

Kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het vroeër gesê die polisie het op Dinsdag 17 November ’n soektog geloods nadat klein Melania Ndacha Ruben (3) vermis geraak het.

Haar ma het haar blykbaar op dié dag in die sorg van bure gelaat en teen 14:00 kon hulle haar nie opspoor nie en het haar as vermis by die polisiestasie aangemeld, het Ngoepe gesê.

Polisie en gemeenskapslede het ná ’n uitgebreide soektog teen 20:00 op Melania se lyk in ’n nabygeleë stroom afgekom.

Sy is met oop wonde aangetref, maar volgens Ngoepe moet ’n nadoodse ondersoek nog die presiese oorsaak van haar dood bepaal. Die 27-jarige verdagte, wat bekend is aan die gemeenskap, is op ’n nabygeleë plaas aangekeer waar hy glo vir die polisie probeer wegkruip het.

“Die eienaar van die plaas het vermoedelik die gemeenskap in kennis gestel van die plek waar die man skuil waarna hulle hom in die bosse gevind en herhaaldelik aangerand het,” het Ngoepe gesê.

Die Bela-Bela-polisie, asook lede van die polisie se openbare orde-eenheid van Modimolle, is ingeroep om die verdagte van die aggressiewe gemeenskapslede weg te hou. Hy is daarna in hegtenis geneem.

Ngoepe het gesê die verdagte sal binnekort op aanklag van moord in die Bela-Bela landdroshof verskyn. Sy naam kan dan eers openbaar gemaak word. Jeremiah Ngobeni, Bela-Bela-burgemeester, het by navraag aan Die Pos gesê die munisipaliteit was reeds in gesprek met Melania se ma en het hul hulp aangebied.

Ngobeni het gesê die munisipaliteit sal ’n amptelike besoek aan die familie bring. Die Pos het Melania se ma vir kommentaar probeer bereik, maar was onsuksesvol.

Related Articles

Back to top button