Local newsNews

Inwoners span kragte saam om dam skoon te maak

Die gedreun van groot masjinerie by die Frikkie Geyser-dam buite Mookgophong was die afgelope week soos musiek in die ore van inwoners.

Volgens kenners en oudinwoners is dit vanjaar die eerste keer in 32 jaar dat die pompe van die dorp se watervoedingsbron afgeskakel moes word weens die lae watervlak van die dam.

Toe die nuus bekend geword het, het die gemeenskap soos een man saamgestaan en geld ingesamel om die dam weer skoon te maak.

Riete en ander plante het veroorsaak dat daar groot modderneerslae is wat die dam se drakrag verminder het. Die dorp se sakekamer het ’n bankrekening beskikbaar gemaak en alle fondse is daarin betaal.

Binne ’n week is R87 000 ingesamel deur individue en sakeondernemings van dié dorp. Almal het saamgewerk en die vroue van die gemeenskap het pannekoek gebak en heerlike melkterte, hamburgers en worsrolletjies is verkoop om die fonds te versterk.

Jacques Möller, wat die werk teen minimale koste verrig het, het aan Die Pos gesê die masjiene is op Maandag 23 November aangeskakel en teen 23:00 is daar reeds 3 820 kubieke meter (dit is 3 820 000 liter waterkapasiteit) se materiaal uit die dam verwyder.

“Baie dankie aan elke inwoner wat kom inloer het en dankie ook vir die voorsiening van etes aan die operateur. Dit word waardeer.”

Burgemeester Marlene van Staden het die Naboom-sakekamer bedank vir die reusepoging wat hulle aangewend het.

“Ek het reeds ’n versoek tot die provinsiale regering gerig om ons omgewing tot rampgebied te verklaar sodat ons bystand kan ontvang met watervoorsiening en om die stoorkrag van die Frikkie Geyser-dam te vergroot. Ons vergader aanstaande week met verteenwoordigers van die nasionale departement van water en sanitasie om weer te vra dat die ontwikkeling van grootmaatwaterbronne in ons omgewing voorkeur geniet. Ons kan nie dienslewering uitbrei en ons dorpe ontwikkel daarsonder nie,” het sy gesê.

Daar word nog sowat R100 000 benodig om die projek te voltooi. Die Frikkie Geyser-dam, wat ongeveer 15 km noordwes van die dorp geleë is, is in 1955 in die Sterkrivier-opvangsgebied voltooi.

Die dam beslaan 26 ha en het aanvanklik jaarliks 720 000 kubieke meter water gelewer. Die damwal is in 1982 met 0,9 m verhoog, wat die dravermoë na 915 000 kubieke meter per jaar verhoog het.

  • Volgens ’n tegniese verslag van die munisipaliteit is die waterbronne in die dorp onder sterk druk vanweë die snelgroeiende bevolking van die dorp en kan daar ’n drastiese watertekort in die nabye toekoms verwag word. Statistieke in die verslag toon daar was altesame 2 456 mense in 1960 en teen 2000 het dit tot 11 674 gegroei. Die geskatte inwonertal staan in 2020 op 17 584.

Related Articles

Back to top button