BlogsOpinion

Hoofartikel: Einde van ’n seisoen

Laat daar vir elke negatief ’n positief wees; vir elke af weer ’n op.

Seisoene kom en gaan.

Daar breek vir my ook ’n nuwe seisoen aan en ek gee die aflosstokkie aan vir ’n nuwe joernalis in Die Pos se Modimolle-kantoor.

Die afgelope ses jaar, as verslaggewer by ’n plattelandse koerant, was ek ’n vlieg teen die muur, ’n toeskouer op die pawiljoen wat die doen en late van inwoners beskou het.

Wat het ek gesien? Dat daar balans in elke samelewing is.

Vir elke hofsaak waar afskuwelike besonderhede oor ’n moord of mishandeling bely is, is daar iemand wat uit hul eie sak en in hul eie tyd kos vir die armes en weerloses gee. Vir elke betoging waar infrastruktuur verniel word, is daar ’n polisieman wat ure lank toegewyd op sy pos is.

Tye wat hy nie by sy gesin is nie; tye waar hy sy lewe waag. Vir elke motorongeluk is daar paramedici, in die privaat sektor én die regering, wat met empatie en flink hande die beseerdes lewend hou. Vir elke slaggat en lekkende rioolpyp is daar mense wat regmaak en netjies maak waar hulle is.

Daar is ondernemings wat geldelik help en inwoners wat hul tyd en vernuf gee.

Nie alle regmakers, helpers en bouers sit langs dieselfde vuur nie. Hulle het wel ’n hart vir hul gemeenskappe en dien hulle op hul eie manier.

Dit is hierdie balans wat ons as inwoners jaloers moet bewaar. Maak seker dinge tuimel nie na verkeerde kant toe oor nie. Laat daar vir elke negatief ’n positief wees; vir elke af weer ’n op.

Dit was ’n goeie ses jaar. Soveel van die berigte en mense sal my my lewe lank bybly.

Dankie dat ek julle stories kon skryf.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button