CrimeNews

Mis­daadsyfers bekom­mer po­li­sie

Hoewel die minister van polisie, Bhe­ki Ce­le, ty­dens die bekend­ma­king van die kwar­taal­lik­se mis­daad­sy­fers ge­sê het kontakmisdaad en roof­tog­te het landwyd aan­sien­lik af­ge­neem, is dit nie in Bela-Bela die geval nie.

Kapt. Em­sie Roux het op Woensdag 11 November tydens die Bela-Bela-poli­sie se plaas­li­ke veilig­heids­ver­ga­de­ring ge­sê die dorp het die afge­lope tyd erg deurgeloop onder misdadigers.

Sy het gesê voorvalle van brand­stig­ting, beska­diging van eien­dom, inbra­ke, roof­tog­te, aan­ran­ding en dief­stal het die plaaslike polisielede baie besig gehou. Die mans wat daarvan verdink word dat hulle onlangs die Pep-klere­win­kel beroof het, is net bui­te Brits in Noordwes aange­keer.

Die poli­sie is egter nog op die spoor van die booswigte wat in Oktober die Ackermans in Chris Hanistraat be­roof het, het sy ge­sê.

In nog ’n voorval in Chris Hanistraat, is bankkliënte voor die Capitec-bank van kontant beroof nadat hul die kitsbank gebruik het, het Roux gesê. Die po­li­sie waar­sku ook dat mense wat tot laataand by sjebeens in die township kuier, die teiken geword het van rowers.

Die mense word van hul selfone en kontant beroof wanneer hulle huiswaarts keer. Die polisie ondersoek verskeie klagtes. Voorts het Roux gesê die polisie het ’n deurbraak gemaak deur ’n verdagte aan te keer wat vermoedelik by verskeie rooftogte tussen die R516-pad en die Waterfront betrokke was.

Die man het glo voetgangers met ’n mes aangehou en hul selfone en kontant geroof. Volgens die polisie word daar ook weekliks meer sake van aanranding en huishoudelike geweld weens drankmisbruik aangemeld.

Roux het gesê die meerderheid van hierdie gevalle vind in die township plaas. In­brake by sakepersele en wo­nings in die town­ship, die indus­trië­le ge­bied en veral in Kretz­chmar-, Flam­boyant-, Van der Mer­we-, Tam­botie- en Mof­fatstraat is aangemeld.

Volgens Roux hou die diefstal van duur elektroniese toerusting verband met die toename in dwelmverbruik. Dié toestelle kan vinnig van die hand gesit word om kontant vir dwelms te bekom.

Die toename in diefstal van krag- en spoorweginfrastruktuur vir hul koperinhoud het skerp toegeneem en is landwyd ’n ernstige probleem. Vol­gens Roux ver­loor ondernemings soos Trans­net, Eskom, die muni­sipa­li­teite en individue mil­joe­ne ran­de weens hierdie misdade.

Die gerug­te dat sekere skroot­wer­we ge­steel­de me­tale on­wet­tig ­koop, is iets wat dring­en­d ondersoek moet word, het sy gesê. In die ge­val waar onbe­plan­de krag­onder­bre­kings plaas­vind, moet inwoners da­de­lik die muni­sipa­li­teit in ken­nis stel of na­vraag doen omdat dit dikwels weens kabeldiefstal is.

Kabe­lo Mo­sito, mu­nisi­pa­le woord­voer­der, het bevestig dat misdaad bydra tot foutiewe infrastruktuur en dikwels lang kragonderbrekings tot gevolg het. Kol. Pu­le Mo­se­lane, hoof van die Bela-Bela-poli­sie se sig­ba­re poli­sië­ringseen­heid, doen ’n be­roep op in­wo­ners om misdaad sonder versuim aan te meld.

Related Articles

Back to top button