LettersOpinion

Brief: Herken u dié plek in Bela-Bela?

Dit is die plek waar daar feitlik geen ordentlike diens bestaan nie.

Stieler van Eeden, Bela-Bela, skryf:

Dit is die plek waar daar feitlik geen ordentlike diens bestaan nie.

Dit is ook die plek waar daar geen dissipline, goeie menseverhoudings, respek, verantwoordbaarheid, ondersteuning en ook geen kundige leiding ondervind word nie.

Dit is dieselfde plek wat nie tydgebonde is nie, of waar stiptelikheid nie as ’n norm beskou word nie.

Ja, dit is ook die plek waar onproduktiwiteit en swak dienslewering aan die orde van die dag is.

Die geykte spreekwoord wat lui “more is nog ’n dag” is hier die leuse. Hierdie plek het ook geen riglyne, prosedures of stelsels van beheer in plek nie. Wat gister gegeld het, is nie vandag se werkswyse nie.

Op hierdie plek kom ons soggens om 04:30 bymekaar, staan in ’n ry met die hoop dat jy onder die eerste 20 is wat vandag die kantoor kan betree. By hierdie tyd is jy gelukkig as die deure om 08:15 open. Dit gebeur egter maar selde.

Die amptenaar wat jou foto, oogtoetse en vingerafdrukke neem, is vriendelik en die nagaan van jou dokumente verloop ook vlot. Nou moet jy betaal.

Hier beur jy die volgende bult uit. Daar is nie afsonderlike betaalpunte vir die onderskeie afdelings nie. Dus van die hernuwing van lisensies, permitte, motorhandelaars wat voertuie registreer en ander privaat persone wat re- gistrasies namens hul kliënte doen (hulle het pakke dokumente wat tot drie uur vat om deur te werk), staan saam met jou in die ry.

Mense wat nie die vorige dag kon betaal nie, word ook voor jou, wat nou al moedeloos is, gehelp. Daar is mense wat nêrens in ’n ry was nie, wat ook voorkeurbehandeling kry En dan … dan staan een van die twee kassiere skielik op en kondig aan: “Sorry, we are offline”.

Wat egter duister is, is dat slegs een kassier se stelsel nie meer op die netwerk is nie. Die ander een gaan aan met haar werk en binne vyf minute wat ek voor haar staan, is my transaksie afgehandel.

Ek kyk op my horlosie. Dit is 13:10. Dit het my agt uur en 40 minute ná my aankoms geneem om my bestuurslisensieaansoek af te handel.

Dié plek, lesers, as julle nie reeds geraai het nie, is die lisensiekantoor in Bela-Bela.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button