NewsSchools

Hans Strijdom laat voornemende gr. 8’s tuis voel

Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het die afgelope naweek ’n kamp vir voornemende gr. 8-leerders aangebied.

Dit was die derde agtereenvolgende jaar dat die Hansies so ’n “lusmakertjie” vir die gr. 7’s aangebied het.

Volgens Marita Louw (onderwyser) en Rudolph De Vos (bemarker), wat die kamp gereël het en ook die kampvoogde was, was dit ’n voorreg om drie heerlike dae in “Hansieland” vir die 76 geesdriftige leerders aan te bied.

“Dit was ’n bedrywige program en die leerders het dit baie geniet. Hulle sê veral die kos was uit die boonste rakke,” het een van die leerders se ouers aan Die Pos gesê.

Die leerders het in die koshuis tuisgegaan en ’n voorsmakie gekry van die koshuislewe by die Hansies.

Leerders het voornemende personeellede ontmoet en eerstehands kennis gemaak met die nuwe Robotika-vak. ’n Ander hoogtepunt was die disseksie van ’n varkhart en -nier in die lewensweten- skaplaboratorium.

Philanda Deneysschen, die skool se opvoedkundige sielkundige, het die voornemende Hansies toegerus met studiemetodes.

Daar was ook baie pret. Die meisies het in spanne van drie teen mekaar meegeding en sommer gou is die toutrekkampioene aangewys. Die waterspeletjies het die warm weer meer draaglik gemaak. Leerders van Pretoria en die Waterberg-streek het die kamp bygewoon.

Die koshuisleiers van 2021 en onderwysers Johanette Pretorius, Hanri de Jager, Marina Gravett en Corlia Botes het gehelp om die ervaring vir elkeen spesiaal te maak en om die leerders tuis te laat voel.

“Ons besef elke jaar net weer hoe belangrik so ’n kamp vir die leerders is en wat dit vir hulle beteken om mekaar beter te leer ken,” het Louw gesê.

Related Articles

Back to top button