Nylstroom-vliegveld se vlerke geknip
Die vliegveld in Modimolle gaan binnekort as ’n privaat vliegveld bedryf word nadat daar besluit is om dit te deregistreer.
Jaco van Zyl, een van die lede van die Nylstroom-vliegklub, het aan Die Pos gesê hulle het onlangs met die munisipaliteit vergader en dié besluit geneem.
Die vliegveld, wat reg langs Phagameng geleë is, staar verskeie uitdagings in die gesig. Huise is tot baie naby aan die landingstrook gebou en voetgangers met kruiwaens vol hout stap heen en weer daaroor. Dit hou gevaar vir vlieëniers en voetgangers in.
Een van die moontlike oplossings is dat ’n stewige heining tussen die vliegveld en die huise opgerig word.
Volgens Van Zyl was dit een van die kwessies wat bespreek is. Die versoek is egter afgekeur. “Ons moet realisties wees en besef dat die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit nie die geld het om dit op te rig nie en dat hulle talle ander behoeftes het waarna hulle eers moet aandag skenk.”
Hy het gesê die vliegklub, wat 12 lede het wat in Modimolle, Vaalwater en Mookgophong woon, sal na die vliegveld omsien. Hulle hoop dat daar wel later geld beskikbaar sal wees om ’n heining op te rig.
“Ons sal die vliegveld privaat bestuur. Vlieëniers kan ’n vrywaringsvorm teken en dan op eie risiko hier land en opstyg. Indien ons vooraf gekontak word en reëlings getref word, sal ons sorg dat die landingstrook skoon en veilig is voordat ’n vliegtuig land,” het hy gesê.
Marlene van Staden, burgemeester, het bevestig dat sy met die nuwe komitee van die vliegveld vergader het.
“Die opgradering sal sowat R1 miljoen kos, wat die munisipaliteit nie tans het nie. Dit wat ons het moet ons gebruik om basiese dienste aan inwoners te voorsien. Hoewel ons graag die vliegveld sal wil opgradeer, sal die gemiddelde inwoner verkies dat ons eerder die slaggate regmaak. “Ons sal enige projek van hulle kant af ondersteun. Ons het ’n langtermynhuurkontrak gesluit en wil graag hê dat hulle suksesvol moet wees. Ons sal hulp verleen waar ons kan en hul aansoeke om befondsing ondersteun,” het sy gesê.
Die gewilde Taildragger Fly Inn-byeenkoms, wat jaarliks talle vlieëniers van regoor die land na Modimolle se lugruim gelok het, is in September vanjaar met groot sukses in Bela-Bela aangebied.
Braam van der Merwe, voorsitter van die Valke-vliegklub in Bela-Bela, het by navraag gesê dit sal vir dié klub ’n voorreg wees om voortaan jaarliks die Taildragger Fly Inn-byeenkoms in Bela-Bela aan te bied.
Die Valke-klub bied ook jaarliks ’n radarbeheerde vliegkompetisie op die vliegveld aan.
Van der Merwe het gesê dié klub het geesdriftige lede wat self verantwoordelik is vir die onderhoud van die vliegveld. Hy het gesê hulle is vol vertroue dat dié vliegveld ’n veilige en gewilde bymekaarkomplek vir vlieëniers van regoor die land sal word.