MunicipalNews

Veels geluk, liewe maatjie …

Die klaarblyklike leë beloftes wat die Bela-Bela-munisipaliteit in Oktober 2019 aan ’n Spa Park-inwoner gemaak het om ’n watermeter by sy woning aan te bring, word nou op hoë vlak aangespreek.

Desirée van der Walt, DA-LP en die Waterberg se kiesafdelingshoof, het aan Die Pos gesê sy het persoonlik vir Bobby Miles van Spa Park op 6 Oktober 2019 bygestaan deur die munisipaliteit te besoek en ongeveer R1 500 vir ’n meter te betaal.

 

ADVERTENSIE/ADVERTISEMENT

 

Van der Walt het aan Die Pos gesê daar is talle beloftes gemaak dat die meter binne twee weke geïnstalleer sou word, maar daar het tot op hede dadels van gekom.

“Dertien maande later is daar steeds geen meter en geen antwoorde nie,” het sy gesê.

Met die “verjaardag” van die transaksie het Van der Walt met bewyse en ’n koek met een kersie op by die munisipaliteit opgedaag om aan die munisipale bestuur te oorhandig.

Sy het dit gedoen om die aandag te vestig op die leë beloftes wat gemaak is, het sy gesê. Amptenare het dié gebaar as ’n belediging beskou, maar het nietemin beloof om opnuut ondersoek in te stel oor die installering van die meter, het Van der Walt gesê.

“Ons was geskok om vas te stel dat die inwoner maandeliks ’n waterrekening ontvang het, al beskik hy nie oor ’n watermeter nie. Die munisipaliteit het ook op hul stelsels gekyk en besef dat die erf ’n munisipale erf is en nie aan die inwoner behoort nie. Ons volstaan by die feit dat hulle reeds in 2019 ons geld aanvaar het en beloftes gemaak het.”

Die Pos het navrae aan Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, oor die aangeleentheid gestuur, maar hy het teen druktyd geen terugvoer verskaf nie.

  • Van der Walt is van plan om op Maandag 16 November terug te keer na Bela-Bela waar sy die veldtog, Poskaart na Parlement, sal loods. Die doel hiervan is dat inwoners diensleweringsklagtes aan haar kan rapporteer wat sy op hoë vlak na die regering kan verwys om in die parlement aangehoor te word.

    Sy nooi inwoners om met haar of Tinus Ras, DA-raadslid, hieroor in verbinding te tree. Die veldtog sal ook in ander dorpe in Limpopo geloods word, het sy gesê.


Baie dankie aan PEG Elektries sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button