Local newsNews

Elektriese storms neem jaarliks toe

Weerpatrone toon dat Suid-Afrikaners meer dikwels aan elektriese storms blootgestel word.

Alexis Barwise, direkteur van Lightning Protection Concepts (LPC), het in ’n onderhoud met Die Pos gesê skade weens drastiese weerverskynsels word meer gereeld aangemeld.

Daar is gereeld grasdakstrukture wat deur weerlig raakgeslaan en verwoes word, het hy gesê.

Volgens die nasionale weerburo se syfers sterf daar jaarliks ongeveer 280 mense wat deur weerlig getref word.

Barwise het gesê daar is die afgelope 10 jaar in die Gauteng-omgewing ongeveer 50% meer weerligverwante voorvalle aangemeld.

Die styging word ook in ander dele van die land ervaar. Dié toename in weerligvoorvalle het die risiko van grasdakstrukture verhoog en daarom beveel hy aan dat alle grasdakgeboue wat in ’n hoërisiko-omgewing is, van ’n weerligafleier voorsien moet word.

Die stelsel herlei die hoëvolt-elektrisiteit direk na die aarde en nie deur die struktuur nie. Die Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde (SABS) vereis dat alle grasdakstrukture aan spesifieke vereistes vir weerligbeskerming moet voldoen.

Barwise het voorts gesê tipiese weerligafleiers is 15-30 m hoog en word binne een meter van die struktuur opgerig om die gebou se kontak met weerlig te beperk.

Dié lang pale kan ook ’n gevaar inhou as dit nie onderhou word nie. Dit moet gereeld met roeswerende verf behandel word. Hy het verder gesê ’n ander alternatief is ’n hoëspanning geïsoleerde weerligafleierstelsel.

Die lengte van dié afleiers is korter as die normale lang afleier en die elektrisiteit word deur middel van kragkabels na die aarde herlei.

Talle lodges en privaat wonings in die Waterberg-gebied het al hierdie stelsel aangebring, het hy gesê.

  • Die weerburo het vandeesweek ’n waarskuwing uitgereik dat erge donderstorms met swaar weer en reën in groot dele van die land verwag word. Waterbergers is veral gemaan om bedag te wees op hewige donderstorms wat tot kitsvloede kan lei.

Related Articles

Back to top button