BlogsOpinion

Hoofartikel: Die lewe is ’n lied

Daar is ’n sprankel hoop in die lug.

Hierdie week lyk die silwer randjie so ’n bietjie blinker en so effe breër.

Die grond is nat. Die korruptes staan in die hof. Ons klou minder benoud aan ons maskers vas en lees dat die eerste tekens van ’n suksesvolle inenting hier is. Die stomme Rand versterk. Die somersonsondergange is prentjiemooi en ons begin droom van Desembervakansies, familiekuiers en wit strande onder blouselblouhemele.

So kort duskant die eksamen, wil-wil dit lyk asof die kinders hul eksamens kan slaag ná ’n deurmekaar akademiese jaar.

Daar is ’n sprankel hoop in die lug.

Het dinge regtig soveel verander of is dit ’n geval van perspektief? Het ons so gewoond geraak om die negatiewe kolom noukeurig in te vul, maar die positiewe inskrywings agterweë gelaat?

Was die aandag so hard op enkele negatiewe dinge gevestig dat ons ’n meerderheid positiewe dinge miskyk? Het ons toegelaat dat die slinkse swart hond van negatiewe denke die oorhand kry? Negatiewe gedagtes en ’n gevoel van hopeloosheid veroorsaak chroniese stres, sê die slimmes.

Dit het op sy beurt ’n hormonale wanbalans tot gevolg en die brein- chemikalieë wat die gevoel van geluk veroorsaak, word uitgeput.

Die liggaam se immuunstelsel ly daaronder. Jou lewensgehalte, lê dus grootliks in jou denke.

Tydens ’n onlangse vergadering vra ’n polisiehoë of die mense daaraan dink wat die impak van ons negatiwiteit en wanhoop oor die toekoms op ons kinders het.

Hou hulle op om te droom dat môre iets goeds inhou?

Die lewe is ’n lied. Vir jou eie beswil, sing maggies, sing!

Related Articles

Back to top button