LettersOpinion

Brief: Hernuwingsproses verloop seepglad in Modimolle, sê inwoner van buurdorp

Amptenare was vriendelik en hulpvaardig en het die aansoeke flink hanteer.

Joyce Botha, Bela-Bela, skryf:

My moed was in my skoene nadat ek die afgelope maande gelees en gehoor het van die swak dienslewering by Bela-Bela se verkeersafdeling.

Dit was egter ’n struikelblok wat ek moes oorkom. Ek het besluit om Modimolle se lisensie-afdeling op die proef te stel en wat ’n aangename verrassing was dit nie?

Die proses het begin met navrae by ’n hulpvaardige persoon waarvan ek die kontakbesonderhede op die internet bekom het.

Die diens was doelgerig en in my eie taal. My afspraak is gemaak en die versekering is gegee dat hulle kan en wil help.

Vroeg die oggend was daar ’n redelike lang ry mense wat by die ingang van die perseel gewag het.

Sowat ’n halfuur voor die amptelike aanvang van die werksdag, het ’n vriendelike vrou uitgekom en by elkeen kom hoor watter dienste hulle benodig en of hulle oor die korrekte vorms beskik. Dit het bygedra daartoe dat almal se aansoeke sonder oponthoud afgehandel is.

Die kantoor het stiptelik op tyd geopen en ons is in groepe van tien ingelaat waar stoele op ons gewag het en streng Covid-19-maatreëls gehandhaaf is.

Die amptenare was vriendelik en hulpvaardig en het die aansoeke flink hanteer.

Hulle het selfs die verwagte datums gegee waarop die nuwe lisensies afgehaal kan word.

My dank en waardering aan die Modimolle-lisensiekantoor vir doeltreffende diens aan die gemeenskap.

Related Articles

Back to top button