’n Hoërskoolseun van Modimolle het ’n klag van aanranding teen ’n polisieman gelê nadat dié hom na bewering só hard teen die kop geklap het dat hy dae lank daarna hoofpyn gehad het en naar was.
Die 16-jarige seun, wie se identiteit weerhou word, was glo op Woensdag 7 Oktober met sy fiets op pad terug huis toe nadat hy by ’n vriend was.
Hy het aan Die Pos gesê hy het oor die pad naby die Fokus Deo-gemeente in Modimolle gery waarna ’n beampte in ’n polisievoertuig hom van die pad getrek het.
“Die man het om sy voertuig geloop en my aan my hemp gegryp en geskud. Hy het op my geskree en my geklap, maar ek het nie duidelik gehoor wat hy skree nie. Toe hy my weer wou klap, het ek gekeer en losgeruk. Ek het baie vinnig huis toe gery en my oupa vertel wat gebeur het,” het die seun gesê.
Volgens hom het hy nie voor die voertuig ingery met sy fiets nie. ’n Vrou wat glo ’n ooggetuie van die voorval was, het agter hom aangery en gevra of alles reg is.
Die kind sê dat sy oor ure daarna steeds rooi en opgeswel was en dat hy dae ná die voorval nog hoofpyn gehad het.
“Ek is nou baie bang vir die polisie. Ek ry nooit weer dieselfde pad terug huis toe nie,” het hy gesê.
Hy het gesê die beampte wat hom gehelp het om die klag te lê, was baie behulpsaam.
AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het bevestig dat ’n saak geopen is. Die polisiebeampte het glo ’n masker gedra en moet eers geïdentifiseer word.
Die saak word deur die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek.