CrimeNews

Koppewaai-heining lei tot klag van intimidasie

Die heining wat opgerig is om onwettige grondbesetters in die Koppewaai-omgewing buite Bela-Bela te stuit, het gelei tot ’n klag van intimidasie.

Volgens kol. Abel Phetla, Bela-Bela-polisiestasiebevelvoerder, het inwoners wat betrokke was by die oprigting van die heining die klag gelê, maar hy kon nie teen druktyd meer inligting verskaf nie.

Die klaers, wie se name om veiligheidsredes weerhou word, beweer ’n groep mense van die informele nedersetting het gedreig om hul huise af te brand nadat die heining opgerig is.

 

ADVERTENSIE/ADVERTISEMENT

 

Talle inwoners van die Koppewaai-omgewing is na verneem word ongelukkig omdat die oprigting van die veiligheidsheining teenaan die Tuin Tuiste-aftreeoord hulle verhoed om verdere sinkstrukture op te rig.

Inwoners het die oprigting van die heining self gefinansier en goedkeuring daarvoor by die Bela-Bela-munisipaliteit gekry.

Grondbesetters het intussen probeer om onwettige sinkstrukture reg langs die heining op te rig. Tinus Ras, DA-raadslid, het by navraag gesê hy het — ná talle oproepe van besorgde inwoners — die polisie se spesiale orde-eenheid gekontak om die situasie te ontlont en betreders te verwyder. Phetla het gesê die klag is nie teen ’n spesifieke individu gelê nie, maar teen ’n groep mense.

Hy het gesê ’n polisiereservis wat in die omgewing woon, word ook by die klag betrek. Geen raadslid word egter volgens hom by die klag betrek nie. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie. Ras het in reaksie hierop gesê daar is herhaalde bewerings dat ’n raadslid glo by die onwettige grondbesettings betrokke is.

Hy het gesê Jeremiah Ngobeni, burgemeester, sal ondersoek instel oor die bewerings en dat tugstappe sal volg indien daar bevind word dat enige raadslid die munisipaliteit se gedragskode oortree het. Desiree van der Walt, DA-LP en die DA se Waterberg-kiesafdelingshoof, het in reaksie gesê die DA het reeds ’n dissiplinêre ondersoek aangevra.

  • Ingevolge die munisipaliteit se bestaande ruimtelike ontwikkelingsraamwerk, wat die grense tussen die stukke privaat- en munisipale grond van Bela-Bela uitwys, is daar tans sonder twyfel onwettige grondbesetters op munisipale grond (Gedeelte 25) op die Alma-pad.

    Die meerderheid van die grondbesetters is egter op die aangrensende Erf 1492, wat aan die Polokwane-sakeman, Steve Bosch, behoort.

    Die oop stuk veld tussen die veiligheidsheining en die grondbesetters vorm volgens alle aanduidings deel van Gedeelte 25.

    Phetla het gesê die munisipaliteit bly die betrokke grondeienaar en slegs die eienaar mag klagtes van betreding open. Hy het gesê hy betreur die feit dat die Bela-Bela munisipale bestuur nie daadwerklik optree en betredingsklagtes lê nie.


Baie dankie aan The Flower Barn sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button