MunicipalNews

Alles (vir eers) stil by Royal Northlands-gholfbaan

Die onwettige grondbesetting by die vervalle Royal Northlands-gholflandgoed in Bela-Bela het inwoners se aandag die afgelope maand opnuut op dié dorp se nypende behuisingstekort gefokus.

Die United Residents Movement, ’n gemeenskapsorganisasie, het op Saterdag 10 Oktober 220 erwe op die gholflandgoed aan “begunstigdes” toegeken.

Geen strukture is opgerig nie, maar voorbereiding daarvoor is wel gedoen. Ingevolge die strafproseswet mag slegs die wettige eienaar van ’n stuk grond ’n klag van betreding lê.

Sover vasgestel kon word, behoort die Royal Northlands-landgoed aan die Maleisiese-konsortium MASA Group Pty. Ltd. Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), het aan Die Pos gesê hy het intussen daarin geslaag om met MASA-verteenwoordigers in verbinding te tree.

Mills het gesê die groep het magtiging aan hom verleen om namens die grondeienaars ’n klag van betreding by die polisie te lê. Kol. Abel Phetla, Bela-Bela-polisiestasiebevelvoerder, het bevestig dat die klag gelê is. Die besetters het op versoek van die polisie onttrek en ’n vergadering is met lede van United Residents Movement en ander betrokke partye gehou.

Paulus Marema, sekretaris van die United Residents Movement, het by navraag aan Die Pos bevestig dat dié groep die grondbesetting aangemoedig het weens die slakkepas waarteen wonings van die herontwikkeling- en ontplooiingsprogram (HOP) in die gebied gebou word.

“Ek het reeds ongeveer 2 000 aansoeke namens inwoners vir HOP-huise ingedien. Ek is maar net een van die ongeveer 1 000 inwoners wat steeds wag vir ’n huis. Daar is dekades lank baie dinge gesê, maar niks het gebeur nie,” het Marema gesê.

Hy beweer dat die munisipaliteit en die polisie reeds op Donderdag 1 Oktober ingelig is oor die beoogde grondbesettings- aksie, maar dat hulle nie eens die moeite gedoen het om met die groep in verbinding te tree nie. Eers nadat ’n waarskuwing aan Marema gerig is om die besetting te staak, het die United Residents Movement gevoel asof iemand aandag aan hul pleidooie skenk, het hy gesê.

“Die HOP-proses neem te lank en daar is te veel bewerings van korrupsie en nepotisme in die toekenning van huise,” het hy gesê.

Volgens Marema is daar ’n dringende behoefte aan grond en toegang tot water, maar inwoners ontvang geen terugvoer van die departement van samewerkende regering en menslike nedersettings (Coghsta) nie. Hy het gesê die grondbesetting word voorlopig op regsadvies gestaak, maar die groep dring aan dat die Bela-Bela-munisipaliteit hulle vrae sal beantwoord.

“Die verkiesing is om die draai. As die verantwoordelike party ons nie gee wat hulle al jare lank beloof nie, is hulle ons steun kwyt. Ons sal stem vir die party wat na ons luister en aan ons dienste verskaf.”

  • Hoewel die behuisingsdepartement (HDA) en Coghsta betrokke is by die koop en voorsiening van grond, bly dit die verantwoordelikheid van elke plaaslike munisipaliteit om begunstigdes te registreer en erwe aan mense te oorhandig.

    Volgens HOP-beleid mag ’n begunstigde dan nie weer aansoek doen vir ’n huis nie en die eiendom mag nie verkoop of onderverhuur word nie. Mills, asook Tinus Ras, DA-raadslid, het albei aan Die Pos gesê Bela-Bela se behuisingskrisis kon al lankal iets van die verlede gewees het indien die munisipaliteit die stuk munisipale grond oorkant die Towoomba-landbounavorsingstasie op die R516-pad na Settlers beskikbaar gestel het vir nuwe huise.

    Volgens hulle behoort die grond aan die departement van openbare werke en word dit erken as voorkeurgrond vir behuising omdat die ligging naby skole, klinieke, winkels en toegangsroetes is. ’n Amptelike munisipale grondoudit moet nog beskikbaar gestel word en die opsies vir behuising word oorweeg, het Ras gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button