![](https://images.caxton.co.za/wp-content/uploads/sites/134/2020/10/lemoenbome-freepik.jpg)
Dirk van der Merwe, Modimolle, skryf:
Ek wil begin om vir AfriForum te bedank vir die positiewe manier waarop hulle ons dorp mooi maak en in stand hou.
Die herstel van slaggate en oprigting van stoptekens by belangrike kruisings word raakgesien en waardeer. Die saak waaroor ek wonder is die volgende:
Ek het in ’n onlangse artikel in Die Pos gelees en foto’s gesien waar lemoenbome voor VKB se handelstak geplant is.
Persoonlik is ek baie dankbaar dat AfriForum met die samewerking van VKB op hierdie manier konstruktief probeer om ons dorp te verfraai. Die impak hiervan kan reeds gesien (en in die bloeityd geruik) word met die sitrusbome wat voor Protea Apteek geplant is.
Ek en Wiets Botes, tans voorsitter van die Waterberg-sakekamer, het met toestemming van die munisipaliteit bome daar geplant.
Toe ek opgewonde na die nuwe aanplanting voor VKB wou gaan kyk, was ek geskok om te sien dat die bome verwyder is.
Met onsteltenis oor die verlies van die bome wonder ek of die skelms nou al so bedagsaam is dat hul selfs die sypaadjie herstel nadat hulle die nuut aangeplante bome gesteel het?