![](https://images.caxton.co.za/wp-content/uploads/sites/134/2020/10/biduitkoms-freepik.jpg)
Karel Niewenhuis, adjunk- provinsiale leier, Vryheidsfront-Plus, skryf:
Die wrede aanval op Brendin Horner was ’n keerpunt in Suid-Afrika se geskiedenis ten opsigte van plaasmoorde.
Die aanvallers wou sonder twyfel ’n stelling maak deur die jong man te martel en daarna aan ’n paal vas te maak.
Die boodskap is op die doeltreffendste manier denkbaar oorgedra aan die landelike bevolking en die hele Suid-Afrika — die moordenaars het nie net geen respek vir lewe nie, maar hul wreedheid grens aan die ondenkbare.
Dit is haas onmoontlik om te verwag dat gemoedere nie hoog sou loop tydens die gebeure by die hof in Senekal nie. Die boere teenwoordig het genadiglik hoë morele waarde behou en nie die reg in eie hande geneem nie.
Vir diegene wat nie in die boere dwarsoor ons land se skoene staan nie, is dit moeilik om te begryp hoe jy jou lewe moet inrig om voortdurend paraat te wees.
Dit is net so moeilik om te glo dat ons hier te doen het met die mense wat kos op ons tafels sit. Dit gaan ook hier oor lewe wat goedkoop geword het. Daar was nog nooit in die land se geskiedenis so ’n leemte van doelteffende leierskap nie.
Die VF Plus was tydens die debakel in Senekal, waar die boere tot die uiterste getart is, een van die stemme wat mense tot kalmte gemaan het. Diegene wat waarsku teen roekelose optrede, is nie bang nie, maar weet geweld lok geweld uit met geen wenners en slegs verloorders.
Ons mag nie uit die oog verloor dat ons hier te doen het met Suid-Afrika se toekoms nie.
Dit gaan nie oor die aansien van politici of korttermyn gewin deur onverantwoordelike uitsprake en beloftes te maak nie. Klaarblyklik besin die ANC geensins oor bostaande nie. Hulle kyk ander pad wanneer die EFF soos los kanonne losbars teen onskuldige mense. Laat ons eerlik wees: die ANC gee bloot nie om nie.
Die miljoendollar vraag bly: waarom? Laat ons glo Senekal was nie net ’n streep in die sand, leë beloftes en verskuiwing van die doelpale nie. Laat ons bid vir ’n daadwerklike ommekeer sodat daar nie nog Brendin Horners in hierdie land sal wees nie.