Modimolle-gemeente vier fees met musiek
Die NG-gemeente Waterberg in Modimolle vier hul 160ste bestaansjaar met groot vreugde en bied ’n konsert met ’n Kersfeeskleur aan.
![](https://images.caxton.co.za/wp-content/uploads/sites/134/2020/10/7a-1-780x470.jpg)
Om dié mylpaal te gedenk, bied hulle op Saterdag 31 Oktober om 17.30 ’n orrel- en viooluitvoering aan. Ockie Vermeulen speel die orrel en Lizelle le Roux speel viool. Dié twee kunstenaars is albei meesters in hul vakgebied en is staande toegejuig met hul vorige optrede by die gemeente.
![](https://images.caxton.co.za/wp-content/uploads/sites/134/2020/10/7b-1-796x800.jpg)
Vermeulen het ’n musiekgraad voltooi en daarna ’n Fulbright-beurs ontvang om sy meestersgraad in orrel aan die University of North Texas te voltooi. Hy het ook sy doktorsgraad in musiek voltooi en verskeie CD’s van hoogstaande gehalte vrygestel.
Hy is twee agtereenvolgende jare by die Suid-Afrikaanse musiektoekennings benoem vir beste instrumentale album en het in 2014 ’n Ghoema-toekenning ontvang vir die beste album in dié kategorie. Hy is die kurator van die Rieger-orrel by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) waar hy ook ’n dosent is.
Le Roux het reeds op skool verskeie kompetisies gewen en toekennings ingepalm. Sy het haar B.Mus-graad en B.Mus-honneursgraad cum laude behaal en die Royal Schools- en Unisa-lisensiate in uitvoerende kuns behaal, asook ’n onderwyslisensiaat.
Sy het in 1999 ’n Royal Schools of Music-beurs behaal en haar meestersgraadstudies aan die Royal Scottish Academy in Glasgow, Skotland, voortgesit waar sy vanaf 1999-2001 as beste uitvoerende student aangewys is. Sy het as solis opgetree saam met internasionale en nasionale orkeste soos die BBC-simfonieorkes en die Johannesburg- en KwaZulu-Natal-filharmoniese orkeste.
Sy het as deel van die groep Eclips vier albums vrygestel waarvan drie goue status bereik het. Sy is ook vir ’n Ghoema-toekenning benoem.
Van stilsit was daar geen sprake nie en dié befaamde musikant het haar ondanks ’n besige musiekloopbaan ook in die regte bekwaam. Le Roux het in 2019 ’n pos as dosent in regsgeleerdheid aan die Universiteit van Pretoria aanvaar. Versnaperinge sal voor die konsert geniet word.
Kaartjies is by die kerkkantoor beskikbaar teen R110 per persoon. Daar is slegs ’n beperkte aantal plekke beskikbaar en die Covid-19-voorsorgmaatreëls sal streng toegepas word.