LettersOpinion

Jammer, ons is tans ‘van lyn af’

Dit wil voorkom asof die partye wat nou daar verteenwoordig word, nie die probleme kan oplos nie.

Lisensiesoeker, Bela-Bela, skryf:

Enige politieke party wat nie tans op die munisipale raad verteenwoordig is nie en wat aspireer om lede tot die raad verkies te kry, sal verseker wees van ’n magdom stemme indien die probleme by die plaaslike lisensiekantoor opgeklaar word.

Dit wil voorkom asof die partye wat nou daar verteenwoordig word, nie die probleme kan oplos nie.

Vir die hernuwing van onder meer bestuurslisensies kan daar glo net 20 aansoekers op Maandae, Woensdae en Vrydae hanteer word — mits die stelsels sogenaamd “aanlyn” is. Om onder die eerste 20 hopelik suksesvolle aansoekers te wees, word aanbeveel dat jy op dié betrokke dae reeds van voor 05:00 in die tou voor die verkeerskantoor val. Indien jy nommer 21 is, sal jy maar onverrigter sake moet omdraai.

Dan wag jy geduldig totdat die kantoor, wat veronderstel is om teen 08:00 te open, eers heelwat later hul deure vir die gemeenskap open. Jou moed sak in jou skoene as die amptenaar in die deur verskyn en ongeërg aankondig dat die stelsel “aflyn” is en dat hulle nie met sekerheid kan sê of dit op dié gegewe dag weer “aanlyn” sal kom nie.

Waaroor daar wel sekerheid is, is dat die “aanlyn” stelsel vanaf Gauteng bedryf word. Wanneer Bela-Bela dus “af” is, is dit klaarblyklik in Gauteng ook die geval.

Intussen kruip die datum waarop jou bestuurslisensie verval al hoe nader en jy wonder watter verkeersbeampte gaan jou glo dat jy nie roekeloos of nalatig is nie, maar dat die lisensiekantoor in Bela-Bela weens probleme in Gauteng feitlik permanent “van lyn af” is?

Die politieke party wat die beste kans staan om in aantaande jaar se munisipale verkiesing goed te vaar, is beslis die een wat daarin kan slaag om die verkeerskantoor in Bela-Bela weer funksioneel te kry.

  • (Die Pos word oorval met klagtes oor die Bela-Bela-verkeerskantoor se onvermoë om aansoekers te help. Klagtes word op bykans ’n weeklikse basis aan die Bela-Bela-munisipaliteit gestuur. — Red.)

Related Articles

Back to top button