En toe word ons baie dors …
Die polisie moes bontstaan om diefstal van die vrag te verhoed.
’n Skare nuuskieriges is op Saterdag 3 Oktober gelok toe ’n trok se sleepwa met ’n vrag bier daarop naby die Bela Mall buite Bela-Bela omgeslaan het.
Volgens kapt. Annemarie Smith, speurtakhoof van die Bela-Bela-polisie, het die ongeluk ongeveer 06:55 die oggend plaasgevind.
Die bestuurder van die trok wou glo van die pad trek, maar het hom misgis met die skuins helling van die skouer van die pad waar die terrein baie ongelyk is. Die sleepwa, wat met Hansa-bier gelaai was, het daarna omgeslaan, het sy gesê.
Geen ander voertuig was in die ongeluk betrokke nie en die bestuurder was ongedeerd. Talle voertuie en ’n klein skare mense was binne minute op die toneel. Die polisie en nooddienste het die ongelukstoneel opgeruim, maar die polisie moes intussen bontstaan om diefstal van die vrag te verhoed.
Smith het gesê totdat ’n vragbrief vir aflewering geteken is, bly die produkte op so ’n vragmotor die eiendom van die brouery en kan mense wat die vrag sonder toestemming verwyder, van diefstal aangekla word.
Die onderneming het egter later die oggend telefonies toestemming verleen dat bedorwe produkte deur omstanders verwyder mag word waarna dit enkele minute geduur het voordat al die bier weg was.
Nooddienspersoneel en die polisie het deurentyd wet en orde op die toneel gehandhaaf en die verkeer laat vloei, het Smith gesê.
- Ingevolge vlak 1 van die Covid-19-regulasies mag drankwinkels slegs van Maandae tot Vrydae van 08:00 tot 17:00 drank aan die publiek verkoop.
Restaurante en gelisensieerde plekke waar kliënte drank op die perseel mag geniet, kan ingevolge die nuwe reëls elke dag van die week drank verkoop.
Kliënte mag slegs binne die perseel alkohol verbruik. Geen ondernemings mag drank ná middernag verkoop nie.