LettersOpinion

Saai veroordeel onsinnige, wrede moord op Vrystaatse plaasbestuurder

Die moord het nie net dwarsoor Suid-Afrika nie, maar selfs in Europa en Noord-Amerika, opslae gemaak.

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter:

Saai (South African Agri Initiative), skryf: Die familieboerorganisasie Saai veroordeel die onsinnige, wrede moord op die 21-jarige Vrystaatse plaasbestuurder Brendin Horner buite Paul Roux.

Die moord het nie net dwarsoor Suid-Afrika nie, maar selfs in Europa en Noord-Amerika, opslae gemaak.

Namate meer Engelse media oor die aard en omvang van plaasmoorde berig, word al ernstiger vrae gevra oor die humanitêre krisis en die regering se hantering daarvan.

Saai neem byna weekliks aan internasionale digitale konferensies oor plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding deel, en het dit verlede jaar in Rome by die loodsing van die Verenigde Nasies se dekade vir familieboere as een van die knellendste vraagstukke in landbou in die suidelike halfrond beklemtoon.

Saai is daarom dankbaar dat een van ons netwerkvennote, AfriForum, ná nege jaar van bewusmakingsveldtogte oor plaasmoorde pas daarin geslaag het om as ’n belanghebbende nieregeringsorganisasie deur die VN erken te word en toegang tot debatte te kry.

Saai sal nou met AfriForum saamwerk om die stem van familieboere van alle rasse op internasionale platforms te laat hoor waar die regering en die staat hulle versaak.

Sedert pres. Cyril Ramaphosa in September 2018 by die VN se algemene vergadering in New York ontken het dat plaasmoorde in Suid-Afrika ’n probleem is, het blootstelling van die grusame voorvalle verbasend toegeneem in die buitelandse media.

Saai beoog ’n tweede internasionale toer om met regerings in die noordelike halfrond te praat oor strategieë om die ANC te dwing om die probleem te erken en iets daaromtrent te doen.

Daar is te veel politici en groepe soos die EFF, BLF en faksies binne die ANC wat plaasmoorde aanhits.

Die marteling en brutaliteit van die moorde, soos dié op die jong Horner, is ongeëwenaard en tekenend van haatmisdaad.

Dat die veiligheidsdienste ook nog nooit ’n vinger verroer het nie teen die tienduisende mense wat plaasmoorde op sosiale media goedkeur, spreek ook boekdele. Dit maak dat plaasmoorde bloot ’n verlengstuk van ’n algemene klimaat van wetteloosheid is.

Suid-Afrika se landbougemeenskap was nog nooit so gefrustreerd en teleurgesteld in die regering soos nou nie. Ter wille van landelike stabiliteit, moet die ANC sy standpunte oor en benadering tot plaasmoorde dringend in heroorweging neem. Gemoedere onder boere loop hoog. (— Brief verkort. Red.)

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button