LettersOpinion

Nuwe inwoner sê dankie

Ek sal hierdie weldaad nooit vergeet nie. Mag die Here julle en julle onderneming en families seën.

Alana Opperman, Bela-Bela, skryf:

Ek het in Desember 2018 vanaf Alberton na Bela-Bela verhuis. Die verhuising is genoodsaak nadat my man, wat my rots en anker was, ná ’n kort siekbed aan kanker oorlede is.

My verhuising was uit nood gebore nadat ons swaarverdiende aftreegeld weens verkeerde advies nie die nodige sekuriteit gebring het waarop ons al die jare staatgemaak het nie.

Daar was geen finansiële voorsorg nie.

My eerste paar weke in die nuwe omgewing was baie moeilik en ek was fisiek, emosioneel en geestelik bankrot, maar deur ons Vader se genade het Hy engele soos Elna Laidlaw oor my pad gestuur. Haar kosbare vriendskap in moeilike tye was ’n geskenk van Bo.

Daar was geen sprake van luukses en bederfies nie en dit kan ’n mens nogal in selfbejammering dompel. Groot was my verbasing toe ek ’n oproep van ’n onbe- kende nommer ontvang en dié persoon homself identifiseer as Eugene van Jordans Hairdressers op die dorp en hy my nooi om ’n dag by hulle deur te bring waar ek behoorlik gepamperlang is deur Yolanda, Leah, Monitha en Eugene self. Julle was engele op my pad.

Ek sal hierdie weldaad nooit vergeet nie. Mag die Here julle en julle onderneming en families seën.

Selfs nadat ek hom gepols het, wou hy nie die anonieme gewer van hierdie wonderlike geskenk bekend maak nie. Ek kan dus nie anders as om in Die Pos vir hierdie persoon, Eugene en sy personeel, te sê baie, baie dankie vir die wonderlike gebaar van welwillendheid en liefde.

Hoewel ek nie weet wie jy is nie, kan ek jou met ’n dankbare hart opdra. Woorde kan nie beskryf wat dit vir my beteken het nie.

“Be the reason that someone believes in the goodness of people.”

Related Articles

Back to top button